Sol-Tech se nuwe kampus vorder teen ’n stywe pas!
August 24, 2020
Ons alumni vertel: “Sol-Tech het my drome waar gemaak”
September 2, 2020

8 Redes waarom jy Sol-Tech se aanlyn opedag moet bywoon

Twyfel jy nog of jy Sol-Tech se aanlyn opedag op 5 September moet bywoon? Kom ons maak dit vir jou makliker…

Ons het met Izelle Palmer (Bemarkingshoof van Sol-Tech) gaan gesels om ’n paar redes te kry waarom die opedag vir jou is.

“Ons jeug het in vandag se tyd soveel uitdagings en keuses ten opsigte van beroepe − ons moenie net die brandstofpype na hul tenk wees nie, maar ook die vonkproppe wat hulle aanvuur tot ’n suksesvolle lewe.”

Hier is ’n paar redes waarom Sol-Tech se opedag vir jou bedoel is:

1. Jy verslind tegniese boeke en tydskrifte soos jou ma se lekker kos en is ’n fundi op die gebied van tegniese terme.

2. Jy stel in ’n ambagsrigting belang en is bekend (of berug) daarvoor dat jy goed uitmekaarhaal (en weer terugsit).

3. Jy oorweeg ’n ambagsrigting, maar is nie seker wat presies dit behels nie. Jy wonder oor die vonkproppe en moere wat in die ambagswêreld te vinde is, en wil uitvind wat nóg alles daar aangaan.

4. Jy is reeds by Sol-Tech ingeskryf, maar is net nuuskierig om meer oor ons nuwe wêreldklaskampus te hoor. (Ons verstaan – jy gaan mal wees oor ons kampus!)

5. Jy is onseker oor die vakke wat jy geneem het en wonder of jy toegelaat sal word by die klomp elite-studente wat hul beroepskwalifikasie by Sol-Tech gaan verwerf.

 6. Wiskunde en Wetenskap is gereedskap in jou spreekwoordelike gereedskapkis en jy gebruik dit gereeld om praktiese probleme mee op te los.

7.  In jou gesin, familie of vriendekring staan jy as die DIY-man of
-meisie bekend wat huishoudelike toestelle soos ’n oond of mikrogolfoond met ’n glimlag en in ’n japtrap kan regmaak.

8. Om iets te maak of bou deur planne of tegniese diagramme te volg, gee vir jou soveel vreugde soos om na die rugbywêreldbeker-eindstryd te kyk − voor die knieë natuurlik begin knak het.

Nou ja, as jy in een of meer van hierdie kategorië val en nog nie vir die opedag geregistreer het nie, doen dit nou − dit kan die beste besluit wees wat jy in 2020 maak!

Vir meer inligting oor die opedag, gaan gerus na  https://sol-tech.co.za/inligting/opedae/

*Onthou, indien jy vir die Oktober-inname registreer geld 2020 se tariewe nog.