Memorandum 05/2021
January 18, 2021

9 Redes waarom jy Sol-Tech se aanlyn opedag moet bywoon

Twyfel jy nog of jy by Sol-Tech se aanlyn opedag op 18 Februarie moet inkskakel of wonder jy of ‘n ambagkwalifikasie vir jou is? Kom ons maak dit vir jou makliker…

Ons het met Izelle Palmer (hoof van bemarking en werwing by Sol-Tech) gaan gesels om ’n paar redes te kry waarom die opedag vir jou is. “Ons jeug het in vandag se tyd soveel uitdagings en keuses ten opsigte van beroepe − ons moenie net die brandstofpype na hul tenk wees nie, maar ook die vonkproppe wat hulle aanvuur tot ’n suksesvolle lewe.”

Hier is ’n paar redes waarom Sol-Tech se aanlyn opedag vir jou bedoel is:

1. Jy is vreeslik nuuskierig oor die nuwe wêreldklaskampus en wil graag self sien waaroor die bohaai gaan. (Ons verstaan – jy gaan mal wees oor ons kampus!) Jy kan voor die TV sit, met jou hond op jou skoot as jy wou, en inskakel op Facebook en alles beleef.

2. Jy verslind tegniese boeke en tydskrifte soos jou ma se lekker kos en is ’n fundi op die gebied van tegniese terme.

3. Jy wil die kampus ervaar en solank visualiseer hoe jy by die Opstal (administratiewe en hoofgebou) navrae oor jou punte gaan doen, en in die Kraal (kafeteria met 400 sitplekke) heerlik aan kafeteriakos gaan smul. Verbeel jou solank hoe jy ’n geselsie met klasmaats tussen klasse by die Werf (binneplein-area tussen die geboue) gaan aanknoop en ruik solank die skaap tjoppie wat jy by die Spilpunt (braai-area) gaan braai.

4. Jy stel in ’n ambagsrigting belang en is bekend (of berug) daarvoor dat jy goed uitmekaarhaal (en weer terugsit).

5. Jy is onseker oor die vakke wat jy geneem het en wonder of jy toegelaat sal word by die klomp elite-studente wat hul beroepskwalifikasie by Sol-Tech gaan verwerf.

6. In jou gesin, familie of vriendekring staan jy as die DIY-man of -meisie bekend wat huishoudelike toestelle soos ’n oond of mikrogolfoond met ’n glimlag en in ’n japtrap kan regmaak.

7. Jy oorweeg ’n ambagsrigting, maar is nie seker wat presies dit behels nie. Jy wonder oor die vonkproppe en moere wat in die ambagswêreld te vinde is, en wil uitvind wat nóg alles daar aangaan.

8. Wiskunde en Wetenskap is gereedskap in jou spreekwoordelike gereedskapkis en jy gebruik dit gereeld om praktiese probleme mee op te los.

9. Om iets te maak of bou deur planne of tegniese diagramme te volg, gee vir jou soveel vreugde soos om ’n roomys in Desember op die strand te eet – toe dit nog toelaatbaar was.

Nou ja, as jy in een of meer van hierdie kategorië val en nog nie vir die opedag geregistreer het nie, doen dit nou − dit kan die beste besluit wees wat jy in 2021 maak!

Vir meer inligting oor die aanlyn opedag, gaan gerus na https://sol-tech.co.za/inligting/opedae/

Skakel gerus op 18 Februarie 2021 om 17:30 op Sol-Tech se Facebookblad in!