sol-tech logo
ambagslui

Ambagslui steeds hoog in aanvraag

Daar is wêreldwyd ’n tekort aan goed gekwalifiseerde ambagslui, wat beteken dat mense met hierdie vaardighede regoor die wêreld in groot aanvraag is.

“Ons beleef uitdagende tye met talle onsekerhede. Wat ons wel weet, is dat die vraag na goed opgeleide ambagslui aanhou om in Suid-Afrika te groei. Daarvan getuig die meer as 400 werkgewers wat ons studente in diens neem, en somtyds in lyn staan en wag vir ons studente, vir hul praktiese ervaring in die werkplek,” sê Paul van Deventer, Sol-Tech se besturende direkteur.

Xpatweb het onlangs ’n verslag oor kritieke vaardighede saamgestel waarvolgens daar ook in Suid-Afrika steeds ’n tekort aan goed gekwalifiseerde ambagslui is. 110 maatskappye, waaronder JSE-genoteerde maatskappye en multinasionale ondernemings, in Afrika is ondervra met die samestelling van dié verslag.

Volgens Paul van Deventer is Xpatweb se bevindinge in lyn met wat Sol-Tech ervaar. “Ons is dankbaar om te kan sê dat Sol-Tech se studente hoog in aanvraag is. Met ʼn 94,7%-sukseskoers van ons studente wat binne ses maande na voltooiing van hul studies werk kry én uitstekend presteer, is dit duidelik dat ons opleiding relevant is en dat ons studente suksesvol die arbeidsmark betree.”

Die groot tekort aan onder meer bekwame elektrisiëns, sweisers, motorwerktuigkundiges en ketelmakers bring mee dat hierdie beroepe van die hoogste aanvangsalarisse betaal. Ambagslui in Suid-Afrika tel dan ook onder die top beroepe met die hoogste inkomstetrajek namate ondervinding opgedoen word. “Sweisers en ketelmakers het die hoogste aanvangsalarisse en beklee van die hoogs betaalde posisies, wat die behoefte aan bekwame ambagslui onderstreep,” lui die verslag deur die outomatiese werwingsplatform Giraffe. “Dit druis ook in teen die persepsie dat handewerk nie ’n lewensvatbare loopbaanopsie is nie.”

Ook van die regering se kant af word daar gereeld klem gelê op die tekort aan ambagslui. Nomalungelo Gina, adjunkminister van handel en nywerheid, het tydens ’n onlangse geleentheid gesê dat daar ’n tekort aan ambagslui in ondernemings soos Eskom is. “Daar is

ook ’n tekort aan elektrisiëns, skrynwerkers, messelaars, sweisers, verwers, motorwerktuigkundiges en vele meer. Daar is ’n tekort aan hierdie vaardighede in die tersaaklike bedrywe, en die opsie om ’n eie onderneming te begin, word sterk aanbeveel.”

In die nasionale vaardigheidsfonds se jaarverslag vir 2018/19 skryf Buti Manamela, adjunkminister van hoër onderwys, wetenskap en tegnologie, dat die opleiding en ontwikkeling van ambagslui ’n prioriteit sal bly in die regering se mediumtermyn- strategiese raamwerk vir die tydperk 2020-2025.

“Daar is voortdurend ’n behoefte aan goed gekwalifiseerde ambagslui om nywerhede te onderhou en ekonomiese groei in Suid-Afrika te ondersteun. In ’n reeks nasionale strategieë word die behoefte aan ambagslui verhoog en geïdentifiseer as ’n prioriteitsarea vir vaardigheidsontwikkeling.”

Volgens Manamela maak die regering se Nasionale Ontwikkelingsplan voorsiening daarvoor dat die land teen 2030 minstens 30 000 gekwalifiseerde ambagslui per jaar moet lewer. Die regering wil die mylpaal egter nou teen einde Maart 2026 haal.

Ambagslui is noodsaaklik vir die land se strategiese infrastruktuurprojekte en ’n tekort aan ambagslui het ook ’n direkte invloed op die land se ekonomiese groei en werkskepping.

Sol-Tech hou op Saterdag 6 Junie 2020 vir die eerste keer ʼn aanlyn opedag. Jy kan in jou sitkamer of op die stoep te sit en saam met jou familielede opgewonde raak oor die talle beroepsmoontlikhede wat Sol-Tech vir jou kan ontsluit. Voornemende studente sal die geleentheid ontvang om vrae via ’n kommentaar-funksie te vra. Bespreek jou plek so gou as moontlik – daar is slegs 500 sitplekke beskikbaar vir hierdie opedag. Die keuringstoets sal na afloop van die opedag aanlyn geskryf word.

Stuur gerus ʼn e-pos aan navrae@sol-tech.co.za vir enige verdere navrae, of besoek ons webblad by www.sol-tech.co.za, óf kom kuier saam met ons op Facebook. ’n Uittreksel van hierdie artikel het oorspronklik op 4 Mei op https://corona.org.za/die-toekoms-van-ambagslui/ verskyn.

Bronne: Xpatweb: https://www.xpatweb.com/news/new-critical-skills-survey-the-most-in-demand-skills-in-sa-may-be-leaving-for-greener-pastures/

Departement van handel en nywerheid: https://www.gov.za/speeches/learners-school-performance-awards-24-jan-2020-0000

Giraffe: https://blog.giraffe.co.za/a-look-at-the-mid-skilled-labour-force-the-best-and-worst-paying-industries

Nasionalevaardigheidsfondsjaaverslag: http://www.dhet.gov.za/NSF%20DOCUMENTS/NSF%202018-19%20Annual%20Report.pdf

Nog nuus