Begin met jou VKO-kwalifikasie by Sol-Tech

Handjies klap,
koekies bak
Bring die meel…
nie te veel.
Klits die eiers gou-gou.
Lekker eet ons netnou.

Kinders tussen die ouderdom van 0-5 jaar wat blootgestel is aan goeie opleiding, ontvang ‘n stewige fondasie om eendag goed te kan presteer. Navorsing toon dat daar tans ongeveer 7 miljoen 0-5 jariges in Suid-Afrika is. Die impak wat ‘n goed opgeleide praktisyn op hierdie segment van die samelewing kan hê is van onskatbare waarde.

Sol-Tech se splinternuwe Vroeëkindontwikkeling-kwalifikasie is spesifiek gemik op skoolverlaters wat in ’n pre-primêre skool werksaam wil wees; individue wat reeds in ’n kleuterskool werk maar ’n formele kwalifikasie wil verkry; au-pairs; kinderoppassers; dagmoeders en tuisskoolmammas wat met 0 – 5 jarige kinders werk. Die intreevlak-kwalifikasie bekwaam studente om met babas, peuters en kleuters (0-5 jaar) te werk.

Sol-Tech is die enigste instansie in Suid-Afrika wat hierdie kwalifikasie in Afrikaans gaan aanbied. Die kwalifikasie duur ongeveer 12 maande en die bekende onderwyskundige, dr. Reda Davin, was betrokke by die ontwikkeling daarvan. Aspekte soos voeding, gesondheid, ouderdomspesifieke aktiwiteite, deernis en toegeneentheid, sosiale interaksie asook leer geleenthede, word as deel van die kwalifikasie gedek.

Benewens die teoretiese onderbou plaas die kwalifikasie sterk klem op die praktiese toepassing en daarom het Sol-Tech gehou by die suksesresep wat sy ambagstudente so gesog maak, naamlik dat die teorie, toepassing en werksplekervaring hand aan hand moet loop. Studente kan uitsien na 6 maande se teoretiese onderrig op kampus waartydens toegepaste praktiese waarneming gelyktydig by ‘n kleuterskool plaasvind. Hierna vind werksgeïntegreerde leer vir 3-6 maande by ‘n kleuterskool plaas.

Aansoeke vir die kwalifikasie is nou reeds oop en die eerste studente kan reeds in Junie met die kwalifikasie wegspring. Doen vandag nog aansoek! Doen dit hier!

Nog nuus