9 Redes waarom jy Sol-Tech se aanlyn opedag moet bywoon
February 11, 2021
Jy het matriek geslaag, wat nou?
March 8, 2021

Die Kraal-kafeteria open sy deure

Stap jy by die Kraal op Sol-Tech se nuwe kampus in, is dit duidelik dat hierdie kafeteria dadelik die hart van die kampus geword het, al het die deure pas oopgemaak. Dáár sit studente in groepe en kuier terwyl hulle aan kafeteriakos smul. En hier voor sit  ʼn paar die ene konsentrasie dubbeld oor hul studiegidse gevou. Die bekende “Manne dis  ʼn voorreg” lirieke klink op bo die gesels; die reuk van heerlike vars gemaalde koffiebone hang in die lug. Hier word gekuier, geleer en bande gesmee.

Sol-Tech se kafeteria (die Kraal) het op 1 Maart begin om kos te bedien en tog was daar  ʼn onmiddellike bekendheid, asof dit ʼn kuierplek op jou tuisdorp is wat jy sal uitsoek omdat dit soos jóú plek voel. Soos Dirk Faughd, ʼn Sol-Tech-student besig met sy teoretiese opleiding, opreg opgemerk het: “Die Kraal is uniek en dit voel soos my huis. Ek kom van ʼn plaas naby Kroonstad en toe ek hier instap het ek dadelik tuis gevoel.”

Vanuit die staanspoor was die bedoeling met die Kraal om ʼn ruimte vir die studente te skep wat méér moes wees as net  ʼn eetsaal waar gesonde (en lekker) kos aan toekomstige ambagslui en personeel bedien word. Besoeke aan universiteite in Duitsland en Amerika met lang tafels in hul eetsale waar studente so samehorigheid ervaar het, het  ʼn blywende indruk gemaak.

Maar vir Sol-Tech was dit verder belangrik dat hierdie ruimte  ʼn leer-kultuur onder studente moes vestig deur  ʼn ruimte te skep waar selfgedrewe leer aangemoedig en moontlik gemaak word. Die eindresultaat? ʼn Eg Suid-Afrikaanse Sol-Tech-kraal met plek vir 400 studente wat op egte leerbanke kan kuier, aan lang houttafels saam kan eet en in afgeskorte areas op hul leerwerk kan fokus. Personeel en studente kuier en eet saam in dieselfde area en versterk  bande.

Teen die een muur pryk onder andere groot afdrukke van  ʼn ou John Deere trekker, goue koringare en sonneblomme;  ʼn regte-egte AGA-stoof word eersdaags geïnstalleer waarop koffie kan staan en prut. Niks sê “Welkom oppi Sol-Tech plaas” soos hierdie nie.

Uit die aard van die saak kos dit ervaring en vernuf om hierdie kafeteria suksesvol te bestuur. Aan die stuur van sake is Willie en Marietjie van der Walt wat in 2020 deur Kanton (’n eiendom beleggingsmaatskappy wat deur die Solidariteit Beweging gestig is) aangestel is om die kafeteria van die grond af te bring en goed te vestig. Beide Willie en Marietjie se ervaring sluit die jarelange bestuur van kafeterias en eetsale van groot universiteite en vakansie-oorde in. Hulle ken die wenresep om ʼn kafeteria te bedryf en het onder meer by die Kraal ʼn stelsel in plek gekry waar studente op hul studentekaart aankope kan doen. Met twee chefs in beheer van die spyskaart en opgeleide baristas wat die lekkerste koffies kan optower, is die studente (en hul ouers) verseker van heerlike kos. Etes van die dag bied ʼn gesonde opsie, terwyl daar ook wegneemetes soos skyfies en hamburgers is.

Soos die Engelse spreekwoord lui is die proef in die poeding: “Hierdie kafeteria is modern en nice. Ek dink nie jy gaan soiets op enige ander kampus kry nie. Die kos is baie lekker en die diens is vinnig,” sê JC van Niekerk. Bastiaan Roos (ʼn meulmaker-student) beaam dit: “Die kos is baie lekker en laat my dink aan my ma se kos.”

Nou ja, daar het jy dit – dit is inderdaad vingerlek-lekker oppi Sol-Tech-plaas.