Sol-Tech-kampus ontvang internasionale toekenning vir uitnemende eiendomsontwikkeling
November 12, 2021

Diesel-studente besoek SAC Trucks

Vra jy vir die meeste ambagslui hoekom hulle juis in ‘n ambag as beroep belangstel, is die antwoord meestal dat hulle daarvan hou om met hulle hande te werk. Om in ‘n enjin te grawe, foutsporing te doen en om self aan ‘n nuwe gereedskapstuk te skaaf en skuur, dít verskaf plesier.

Sol-Tech se onderrig-leermodel is juis so ontwikkel om studente met ‘n stewige teoretiese fondasie toe te rus, maar om ook die geleentheid te skep waar studente die kennis prakties in ‘n werkwinkel kan toepas om optimale leer te verseker. Wanneer die industrie en studente bymekaarkom, word daar geleenthede geskep om juis hierdie dinamiek te bewerkstellig.

SAC Trucks se Centurion-tak fokus veral op die landswye lewering van onderdele in die swaardiens-vervoerbedryf. Verder is die tak ingerig om nuwe en aangepaste (reconditioned) onderdele soos ratkaste, enjins, vragmotor ewenaars en menigte diens- en slytonderdele aan die industrie te voorsien. DT Spare Parts en Eurol-smeermiddels is van die produkte wat SAC Trucks voorsien.

Hul werkswinkels doen diens en herstelwerk aan veral Europese vragmotors soos Scania, Volvo, Mercedes, MAN en DAF.  Dié tak is ook toegerus met ‘n volledige dinamometer en toetseenheid vir vragmotors (daar is slegs twee sulke meters en eenhede beskikbaar in Suid-Afrika).

Die Dieselwerktuigkunde-studente het onlangs as deel van hul praktiese opleiding by SAC Trucks gaan aanklop om hul hande vuil te maak en in die praktyk te sien hoe dié toetseenheid werk. 

 Studente het die geleentheid gekry om deel van die “dyno tune” (‘n toestel wat gebruik word om ‘n vragmotor op rollers te laat hardloop) te wees. Tydens hierdie proses word toetse op die vragmotor gedoen asof dit op die pad ry, om dan vas te stel of alles aan die vragmotor reg is en optimaal werk sodat die vragmotor sy volle potensiaal en maksimum kraglewering kan bereik. Deur weestand van die rollers op die wiele te plaas en die vragmotor dan op verskeie enjintoere te laat werk, word lewendige toetse en data verkry om toe te sien dat aspekte soos die enjin-olie-druk, die verkoeling se temperatuur en die werking van die turbo-aanjaer op standaard is.

Aanwending van toerusting soos dié stel die dieselwerktuigkundige in staat om akkurate diagnoses op die werking van komponente in en om die vragmotor te doen. Boonop is dit vir enige student wat van sterk enjins en wiele hou ‘n ervaring om iets soos dít te beleef, want dit is ‘n geleentheid wat hom nie elke dag voordoen nie.

Dit is vir Sol-Tech lekker om met ‘n ondernemings soos SAC Trucks, wat ons passie vir die opleiding van opkomende ambagslui in ons land deel, geassosieer te word.