Januarie en Februarie voel dikwels soos die langste maande van die jaar en meeste mense kan daarvan getuig dat, om rande te rek, hoog op die prioriteitslysie is.
Een van Suid-Afrikaners se grootste uitgawes (en kopsere) is die aankoop van diesel en petrol. Dit kos mens ‘n arm en ‘n been (en ook ‘n nier en ‘n long) om net van punt A na punt B te reis.
Lourens Jansen van Vuuren, waarnemende diesel-programhoof by Sol-Tech, deel graag ‘n paar wenke om te verseker dat verbruikers meer myle per liter kry.
1. Ry minder. Dit is die voor die hand liggendste wenk. Beplan jou ritte beter, word deel van ‘n saamryklub en vermy kort ritte vir een of twee items. Stop-en-ry-verkeer moet liefs vermy word – dit vreet petrol.
2. Maak seker dat jou voertuig gereeld gediens word om optimale funksionering te verseker.
3. Kyk dat die banddruk reg is en indien jy die moter se bande vervang, maak seker dat die korrekte grootte band opgesit word.
4. Wanneer jy jou bande laat pomp moet die bande nog koud wees. As jy ‘n warm band pomp, kan dit skade aan die band veroorsaak.
5. Mens kry deesdae sogenaamde brandstofbesparende pille op die mark, maar soos die AA beveel ek dit nie aan nie, aangesien ons nie weet preseis wat in daardie pille is nie. Dit kan moontlik skade aan die enjin doen.
6. Laastens is dit belangrik om na jou bestuurstyl te kyk – as jy agressief bestuur gaan jy meer brandstof gebruik.
Mag daar nog baie lang en gelukkige myle vir jou voorlê!
Hierdie artikel het oorspronklik op Maroela Media verskyn (https://maroelamedia.co.za/leefstyl/motors/brandstofkrisis-vereenvoudig-waar-moet-jy-bespaar/