Vat die deugde met jou saam, Promoveringsplegtigheid 4 Mei
May 9, 2022
Sol-Tech verwelkom nuwe bemarkingsbestuurder
May 26, 2022

Toppresteerder gee wenke

Jamie van Wyk is op 4 Mei tydens die Sol-Tech-promoveringsplegtigheid as toppresteerder in die Diesel-afdeling aangewys. Sol-Tech het by dié student gaan inloer om te hoor hoe sy pad vorentoe lyk en of hy enige wenke vir voornemende studente het.

Jamie merk ‘n paar boksies af wanneer jy aan ‘n tipiese ambagsman dink: Hy werk graag met sy hande en om sy hande in ‘n dieselenjin vuil te maak gee vir hom baie genot. Hy is ‘n man van min woorde. Nederig. Voeg daarby ‘n goeie skeut doelgerigtheid en jy kom vinnig agter waarom die toppresteerder-toekenning hom te beurt geval het. 

Die feit dat Sol-Tech juis vir sy praktiese opleiding bekend is, was dan ook een van die redes waarom hy Sol-Tech sy eerste keuse vir opleiding gemaak het. Hy wou baie graag op ratkaste werk en ‘n kwalifikasie by ‘n instansie verwerf wat tydens die opleidingsfase reeds fokus op die vaardighede wat jy in die toekoms gaan nodig hê. Die praktiese inoefening van take is waarmee hy hom in die werkswinkel besig gehou het, en hy het dikwels meer ure ingesit as wat verwag is. 

Jamie se oë begin sommer glinster toe die gesprek na sy indiensopleidingsfase draai. Vanaf Junie noem hy Bothaville huis en begin hy met sy opleiding by ‘n John Deere-agentskap van Senwes. Die geleentheid om dit waaraan hy soveel ure in die werkwinkel gewy het toe te pas maak hom sommer baie opgewonde. 

Jamie het twee wenke vir voornemende studente:

  1. Hoewel die teorie vir jou vervelig lyk, maak seker dat jy goed daarop fokus en dit behoorlik onder die knie kry. Dit is ‘n belangrike bousteen vir jou praktiese opleiding.
  2. Konsentreer veral op die praktiese inoefening van take en maak seker dat jy die uitvoer daarvan onder die knie het. Hou aan oefen tot jy dit regkry.

Tydens die promoveringsplegtigheid het Jamie die CLAAS-wisseltrofee as die beste presteerder in die Diesel-werkwinkel ontvang.

Sy groot droom is om eendag te boer en ook sy eie besigheid daarmee saam te bedryf. Baie sterkte!