Sol-Tech-student skiet kolskoot
April 8, 2022
Vat die deugde met jou saam, Promoveringsplegtigheid 4 Mei
May 9, 2022

Ons groet die toekoms, Promoveringsplegtigheid 4 Mei

Op 4 Mei 2022 het die tweede groep Sol-Tech-studente tydens ’n promoversingsplegtigheid na die volgende fase van hul opleiding promoveer. 

Soos die gebruik is, het een van die studenteraadslede ’n boodskap aan die studente oorgedra. En wie beter om dit te doen as die elektries-student Monia Boshoff (SR-lid administrasie) wat self tydens die funksie promoveer het.

Hiermee ’n uittreksel uit haar boodskap:

Hier staan ons vandag as studente, reg om die grootmenswêreld in te gaan. ’n Nuwe fase van ons lewens begin en ons mag dalk nie weet wat presies dit inhou nie, maar ek weet dat elkeen van ons nie vir enige uitdaging gaan terugstaan nie. 

Ons het almal by Sol-Tech met ’n droom begin. ’n Droom wat ons in ’n realiteit moes omskep. Hierdie drome van ons het lang ure, baie sweet, uitdagings (soos om polonie te saag) en baie moeite geverg, maar hier staan ons nou, reg om die wêreld aan te durf en ons drome verder na te jaag. 

Ek het ook hier begin met ’n droom. Ja, ek was bietjie bang vir wat Sol-Tech na my kant toe kon gooi, maar nie te min het ek aanvaarding gevind hier.

Ek het vriende gemaak wat soos broers vir my geword het. Ek het ’n tuiste gevind in Sol-Tech met hul eg Suid-Afrikaanse manier van goed doen, al is dit net om ‘n vuurtjie aan te steek en te braai na ‘n lang dag. 

Ek staan hier met ’n seer maar gelukkige hart vandag: seer want ek weet binnekort moet ek groet en die wêreld binne gaan, gelukkig want ek weet ek sal in staat wees om die wêreld binne te gaan met die opvoeding en opleiding wat ek by Sol-Tech gekry het.

Sol-Tech, jy was goed vir ons in die tyd wat ons hier was. Jy het ons help vorm in die manne en dame wat vandag hier staan. Jy het vir ons waardes geleer. Ons sal nooit genoeg dankie kan sê nie.

Ek bid vir ’n suksesvolle pad vorentoe vir elkeen van ons.

Mag elkeen van julle se drome ’n realiteit word. 

Ernie Harwell het gesê: “It’s time to say goodbye, but I think goodbyes are sad and I’d much rather say hello. Hello to a new adventure.”

Gaan uit en gaan geniet hierdie avontuur wat begin, maar vir nou totsiens tot ons mekaar weer sien.