75 Sol-Tech-studente promoveer na indiensopleidingsfase
March 4, 2022
Ons groet die toekoms, Promoveringsplegtigheid 4 Mei
May 9, 2022

Sol-Tech-student skiet kolskoot

Tiaan Scheepers is ’n dinamiese gereedskapmaker-student by Sol-Tech wat nie net goed op kampus vaar nie, maar homself uitstekend op die skietbaan laat geld.

Tiaan het gedurende Maart by die Suid-Afrikaanse metaal-silhoeëtskietproewe sy pad na die senior Proteaspan oopgeskiet. Dié span gaan later vanjaar aan die IMSSU-wêreldkampioenskappe in Swede deelneem. Tydens die proewe het hy die hoogste algehele telling in agt items in die senior- en juniorafdeling met die klein kaliber geweer ( .22) aangeteken. Hy was ook die algehele wenner in die produksie windbuks-item tydens die kompetisie.

Dié kranige skut se liefde vir skiet is reeds van kleins af gekweek, met sy pa en broer wat ook graag skiet. Vandat hy vyf is het hy op hulle plaas geskiet en later, in graad 6, dit aktief as sport begin beoefen. In graad 10 by die Hoër Landbouskool Marlow in Cradock is hy vir die junior Proteaspan gekies, wat Suid-Afrika in 2018 in Finland verteenwoordig het. 

“Ek is baie dankbaar om gedurende Junie en Julie aan die wêreldkampioenskappe in Swede te gaan deelneem. In 2020 is dit weens Covid afgestel en daarom is hierdie vir my baie spesiaal,” sê Tiaan oor die eer om die Proteaspan ʼn tweede keer op die skietbaan te verteenwoordig.

In 2018 het hy ʼn silwer- en bronsmedalje tydens die wêreldkampioenskappe verwerf. Vir die 2022-kampioenskappe stel hy sy visier weer op ʼn medalje. Dit sal die eerste keer wees wat hy in die senior-kategorie deelneem, hoewel hy nog onder 20 is. Die kompetisie is baie straf met deelnemers uit lande soos Swede, Frankryk, Oostenryk, Sri-Lanka, Ierland, Duitsland, Noorweë, Finland, Hongarye en Australië.

Tiaan ken van hard werk en streng tydsbestuur toepas. Vanaf 2018 probeer hy daagliks oefen en boonop oor naweke en vakansies ook, en hy maak verder ook seker dat hy geestelik en fisies fiks en gesond bly. Om sekere opofferings te maak is deel hiervan. So het hy byvoorbeeld sy suikerinname drasties verminder, vermy hy alkohol en probeer hy sy bes om sy stresvlakke onder beheer te hou. 

Tiaan glo in Gary Player se gesegde: “The more you practice, the luckier you get.” Op die vraag oor hoe hy dit reggekkry het om so goed te vaar antwoord hy onomwonde: “Sonder my ouers en my broer se ondersteuning sou ek dit nie kon doen nie.”

Dit vat ʼn baie besonderse student om op so ʼn vlak te kompeteer én ʼn sukses van sy studies te maak, maar hy kry dit tot dusver baie goed reg om die twee saam te tandem. As gereedskapmaker-student by Sol-Tech vaar hy ook baie goed.

Die bekende spreekwoord lui “skoenmaker hou jou by jou lees”, en dit is veral op Tiaan van toepassing. Wanneer hy dele op sy geweer wou verander, het hy vinnig langs die geweersmit  by die draaibank gaan staan. So het hy ʼn liefde vir die ambag gekweek. Om homself as gereedskapmaker te bekwaam was ʼn natuurlike nadraai van hierdie liefde.

Op die vraag oor wat hy wil doen nadat hy sy studies voltooi het, antwoord hy dadelik dat hy graag as geweersmit by ʼn groot maatskappy sy roeping sal wil uitleef. Hierdie jong man het met harde werk en baie talent ver gekom en ons wens hom alle sterkte vir die wêredlkampioenskappe toe!