Meer as ʼn lied – ʼn roepstem
January 27, 2022
75 Sol-Tech-studente promoveer na indiensopleidingsfase
March 4, 2022

Eerste Sol-Tech-opedag vir 2022 vind op 25 en 26 Februarie plaas

Op 25 en 26 Februarie 2022 hou Sol-Tech sy eerste opedag vir 2022. Die twee dae bied die ideale geleentheid aan voornemende studente en hul ouers om op die Sol-Tech-plaas te kom kuier en by wyse van spreke hul gereedskapkis vir die toekoms gereed te kry.

Die Sol-Tech-opedag is ‘n groot hoogtepunt op die kalender en bied aan voornemende studente die geleentheid om met lektore te gesels, deur die moderne werkwinkels te stap, inligting oor die onderskeie ambagte te kry en om presies te sien waaroor ambagopleiding gaan. Dit is jou kans om in die Kraal te kom koffie drink, in die Werf te loop en sommer net die #trotsSolTech gevoel te kry.

Volgens Izelle Palmer (Senior koördineerder: bemarking en werwing) is daar ‘n paar belangrike redes om die opedag by te woon: “Om te besluit wat die volgende stap op jou loopbaanreis is, is dalk vir jou ‘n vreesaanjaende gedagte. Opedae gee eerstehands die noodsaaklike insig in daardie volgende stap, wat jou sal help om die plek te vind waar jy oor die komende jare gaan studeer. Daardie eerste dag by ‘n nuwe instansie of universiteit is net so skrikwekkend soos enige eerste, maar met die kennis wat by ‘n opedag opgedoen word, word studente die selfvertroue en duidelikheid gegee wat hulle nodig het om van dag een af te floreer. Opedae bied alles wat jy moet weet oor studies, studentelewe en nog meer by jou nuwe kollege!”

‘n Sol-Tech-opedag is definitief ‘n belewenis! Nie net is die feestelike atmosfeer die dag se uitstappie werd nie, maar op hierdie dag kry voornemende studente en ouers die geleentheid om eerstehandse ondervinding deur interaktiewe sessies in die werkswinkels op te doen. Die studenteraad en personeel bied ook persoonlike kampustoere aan ons gaste. Groot pryse is op die spel en gaste kan by die verskaffers se stalletjies langs stap om die nuutste toerusting en tegnologie te ontdek. Wanneer die honger te groot raak, bied die Kraal lafenis met heerlike boeretroos en ons welbekende Swissbul.

Graad 12’s kry ook die geleentheid om die keuringstoets op kampus af te lê – maak seker dat jy vooraf hiervoor registreer.

Hierdie dag is nie net vir graad 12’s bedoel nie, maar ook vir graad 11’s en selfs graad 10’s. Onthou indien jy nie in graad 12 of ouer is nie, is dit nie nodig om nou al tydens die opedag die keuringstoets af te lê nie.


Ons sien uit om jou op die Sol-Tech-plaas te verwelkom!