Vroue van staal staan hul man – Lynette Schultz
April 12, 2021
Sol-Tech hou eerstejaarskamp
April 21, 2021

Eerste studente deurloop die Doen-dit-self-sweiskortkursus

“Ek weet baie van sweis, maar het nog nooit geleer hoe om behoorlik te sweis nie. Dit is hoekom ek hier is.” So sê Pieter Brits (69) van Benoni wat deel van die heel eerste groep studente is wat die sweis-kortkursus by Sol-Tech deurloop.

Gedurende die week van 10 tot 16 April is hierdie splinternuwe kortkursus in Sol-Tech se sweiswerkwinkel aangebied, met die eerste 17 studente wat begin het. Van jonk tot oud het trots aangemeld en die vonke behoorlik in die sweishokkies laat spat.

Dié kursus word op ʼn vol- en deeltydse basis aangebied, met die voltydse studente wat van 11 tot 16 April op kampus was en die deeltydse studente wat vanaf 10 April die kursus op Saterdae deurloop. Sodra studente die assessering suksesvol voltooi, word ʼn bywoningsertifikaat aan hulle uitgereik. Hierdie kursus is spesifiek bedoel vir Jan Alleman wat óf sy doen-dit-self-vaardighede wil verbeter, óf wil leer om te sweis.

Volgens Brits is hierdie kursus ʼn uitstekende inisiatief en ideaal vir iemand wat sweis vir ʼn stokperdjie doen, of selfs vir iemand wat meer gevorderde projekte wil aanpak. “Ek het veral die interaksie met die instrukteurs baie geniet en sal dit vir enige iemand aanbeveel.”

Henrico Jordaan (18) is besig met ʼn deeltydse landboukwalifikasie en het besluit om die voltydse kursus te doen, spesifiek om sy vaardighede uit te brei en homself verder te bekwaam om ook sweisprojekte as deel van sy werk te kan aanpak. Johan Oosthuizen (19) is tans in ʼn fabriek werksaam en wil baie graag in die nabye toekoms by Sol-Tech met sy sweis ambag begin. “Ek wou graag van die begin af reg leer sweis en die vaardighede aanleer om dit te kan doen,” sê Johan. Hierdie kursus onderskei hom reeds van sy kollegas in die werkplek.

Die sweis-kortkursus is die eerste van ʼn klomp soortgelyke kursusse wat Sol-Tech in die nabye toekoms wil aanbied. Sol-Tech hoop om op dié manier ook die gemeenskap te betrek en  die aanleer van vaardighede soos hierdie meer toeganklik te maak.

Hou gerus Sol-Tech se webblad en Facebookblad dop vir meer inligting oor die kursus en die volgende aanvangsdatum.