Koshuisopen

Eerste studente trek by koshuis in

Studente van regoor Suid-Afrika het Saterdag 5 Oktober 2024 by die Sol-Tech Plaashuis ingetrek.

Dié studente is die eerste groep wat die koshuis “huis” kan noem. Dit volg nadat die bouwerk (‘n projek van Kanton) aan die koshuis einde September voltooi is. Die 400-bed koshuis sluit aparte mans- en damesblokke, ‘n ontspanningsarea, Plaasdam (swembad), kafeteria, boma en buiteluggimnasiumin in.

Saterdagoggend was dit tyd vir die groot intrek, met yskassies, klere, beddegoed, eetgoed en selfs ‘n reusebottel Oros wat afgelaai en na die kamer gedra moes word. Die studente kon nes skrop en hul kamers inrig, en natuurlik hul kamermaats ontmoet.

Volgens Cobus Coetzee (studentesakebestuurder), bied die koshuis die geleentheid om gesonde tradisies en ‘n positiewe leeromgewing te vestig. “Die studente gaan hiér lewenslange vriendskappe smee en herinneringe – om hulle ‘n leeftyd te hou – maak.”

Na afloop van die groot trek is daar in die Kraal, op kampus, op gepaste wyse geopen, kon die ouers smul aan SPYS se kos en vir oulaas saam met die studente kuier.

Die res van die middag is aan ‘n oriënteringsprogram gewy en daarna was dit tyd vir braaivleis en lekker langs die vure kuier.

Sondag was daar tyd vir saam Bybelstudie hou en kon die studente die res van die dag gebruik om die koshuis te verken en hul mede-studente beter te leer ken.

‘n Voetgangerbrug word eersdaags ‘n klipgooi van die koshuis af opgerig om ‘n veilige oorgang na die kampus te verseker. As deel van die studente se gemeenskapsbetrokkenheid en -diens, het hulle Maandag die parkie en beoogde bou area skoongemaak.

Dinsdag was dit Innamedag en kon die koshuisinwoners met die dorpstudente kennis maak.

Dit lyk reeds of daar al hegte bande gesmee is – mag julle die tyd en ervarings in die koshuis baie geniet!

Nog nuus