“Dit was nie kinderspeletjies nie!”
So antwoord die vyf dames onomwonde wat op 31 Oktober na die volgende fase van hul Vroeëkinderjare Ontwikkelingskwalifikasie (VKO-kwalifikasie) gepromoveer het.
Sol-Tech het in Junie 2024 met sy splinternuwe VKO-kwalifikasie weggespring. Die studente het Maandae tot Woensdae na-uurs op kampus klasgedraf en moes Donderdae by ‘n kleuterskool vir prakties werksaam wees.
Volgens Melané van den Berg, programbestuurder van die VKO-kwalifikasie, is sy baie trots op elke dame en is hulle harde werk beloon. “Dames, ek wens julle alle sterkte vir die laaste opdragte en die FISA toe. Soos ek altyd sê, julle sal oukei wees!”
Annika Pieterse is tydens die promoveringsfunksie as die toppresteerder aangewys. Volgens Annika was dit ‘n groot voorreg om deel van die eerste groep studente te wees, en om dit boonop in haar moedertaal te doen. Sy het self klein kindertjies en is by ‘n kleuterskool in die Moot werksaam. “Dit was hope pret en ek voel sommer baie trots. Die Byekorf (die VKO-lesinglokaal) het behoorlik gegons!”
Volgens Clarize Taljaard was die afgelope ses maande ‘n ongelooflike avontuur wat sy nooit sal vergeet nie. “Juffrou Melané se ongelooflike kennis en die vermoë om dit interessant en verstaanbaar oor te dra, was ongelooflik. Juffrou se passie inspireer my om die beste weergawe van myself te wees!” Volgens Clarize sal sy enige iemand wat in vroeëkinderjare ontwikkeling belangstel aanmoedig om die kwalifikasie te doen.
Die studente is hard besig met voorbereiding vir die finale FISA-eksamen waarna die werksplekgeïntegreerde leerfase van hul studies voorlê.