Diesel-studente besoek SAC Trucks
November 25, 2021
5 Veiligheidswenke vir die gebruik van ‘n kragopwekker
December 15, 2021

Geskenkte bus veilig tot by Sol-Tech gebring

Sol-Tech se Diesel-afdeling was onlangs so bevoorreg om ‘n groot skenking in die vorm van ‘n bus van Iveco te ontvang. Hierdie skenking is nie net groot in terme van die onderrig-en leermoontlikhede wat dit in die betrokke werkwinkel moontlik maak nie, maar fisies ook groot in terme van die grootte van die skenking.

Daar was net een uitdaging. Die bus moes spoedig van Iveco se perseel verwyder word en by Sol-Tech staanplek kry. Aangesien die voertuig vir ‘n geruime tyd gestaan het was sy remme geslyt en was dit nie sommer net vir haak en ry nie.

Dit was egter geen uitdaging vir Kobus en sy span van Rieks Insleepdienste nie. Vroeg die oggend van 20 November was Rieks se bekwame span daar om planne te beraam om die voertuig te sleep. Nadat die nodige veranderinge aangebring is, was die bus reg om gehaak en gesleep te word.

Die sleep van Rosslyn tot by die kampus in Monumentpark het vlot verloop en die voertuig was in ‘n japtrap netjies en veilig by Sol-Tech. Net soos met die haak vir die sleep van die bus het die afhaakproses ook seepglad verloop.

Ons het voorwaar uitstekende diens van Rieks Insleepdienste ontvang. Nie net was die diens uitstekend nie, maar die insleepspan was ook vriendelik en ‘n plesier om mee saam te werk.