Het jy geweet?
August 10, 2021
Welkom by die Sol-Tech-familie
August 18, 2021

Is die Sol-Tech-opedag vir jou?

Sol-Tech se laaste opedag vir 2021 vind op 3 en 4 September 2021 plaas. Hierdie is die ideale geleentheid om meer oor die ambagkwalifikasies wat Sol-Tech bied te wete te kom én om Sol-Tech se wêreldklaskampus te ervaar.

Steeds onseker of jy die dag moet bywoon?

Toets jouself aan die hand van die volgende kriteria en besluit dán self:

1. Jy is vreeslik nuuskierig oor die werkwinkels op die wêreldklaskampus en wil graag self sien waaroor die bohaai gaan. (Ons verstaan – jy gaan mal wees oor ons kampus!)

2. Jy verslind tegniese boeke en tydskrifte soos jou ma se lekker kos en is ’n fundi op die gebied van tegniese terme.

3. Jy wil die kampus ervaar en solank visualiseer hoe jy by die Opstal (administratiewe en hoofgebou) navrae oor jou punte gaan doen, en in die Kraal (kafeteria met 400 sitplekke) heerlik aan kafeteriakos gaan smul. Verbeel jou solank hoe jy ’n geselsie met klasmaats tussen klasse by die Werf (binneplein-area tussen die geboue) gaan aanknoop en ruik solank die skaap tjoppie wat jy by die Spilpunt (braai-area) gaan braai.

4. Jy stel in ’n ambagsrigting belang en is bekend (of berug) daarvoor dat jy goed uitmekaarhaal (en weer terugsit).

5. Jy is onseker oor die vakke wat jy geneem het en wonder of jy toegelaat sal word by die klomp elite-studente wat hul beroepskwalifikasie by Sol-Tech gaan verwerf.

6. In jou gesin, familie of vriendekring staan jy as die DIY-man of -meisie bekend wat huishoudelike toestelle soos ’n oond of mikrogolfoond met ’n glimlag en in ’n japtrap kan regmaak.

7. Jy oorweeg ’n ambagsrigting, maar is nie seker wat presies dit behels nie. Jy wonder oor die vonkproppe en moere wat in die ambagswêreld te vinde is, en wil uitvind wat nóg alles daar aangaan.

8. Wiskunde en Wetenskap is gereedskap in jou spreekwoordelike gereedskapkis en jy gebruik dit gereeld om praktiese probleme mee op te los.

9. Om iets te maak of bou deur planne of tegniese diagramme te volg, gee vir jou soveel vreugde soos om ’n rugby wedstryd op Loftus by te woon, toe dit nog toelaatbaar was.

Nou ja, as jy op een of meer van hierdie vrae ja geantwoord het, moet jy verseker die opedag bywoon − dit kan die beste besluit wees wat jy in 2021 maak!

Vir meer inligting oor die opedag: https://bit.ly/3maYnBh
Registreer hier om die verpligte keuringstoets af te lê: https://bit.ly/37KovKT