Jy het matriek geslaag, wat nou?
March 8, 2021
Sol-Tech-kampus amptelik ingehuldig
March 26, 2021

Kom kyk hoe dit by Sol-Tech lyk

Winston Churchill het dit so mooi beskryf toe hy gesê het ons gee vorm aan ons geboue, daarna vorm hulle ons. Die nuwe Sol-Tech-kampus word nie verniet beskryf as ʼn lewende monument nie. Dit gaan vir jare nog deel wees van die mense wat maand na maand hul bydraes aan die Boufonds gemaak het.

Duisende Boufonds-lede se tien-, twintig- en vyftigrande het ʼn reusekampus geword en Sol-Tech is net die begin. So het 1,3 miljoen bakstene ʼn reusekampus geword en jy kan nou ook virtueel na die splinternuwe kampus kom kyk.

Sol-Tech-kampus se tema

Sol-Tech wou verseker dat studente met die kampus identifiseer deur ʼn plaastema te gebruik. Op hierdie unieke manier word die verbintenis met ons erfenis verder versterk en word iets van die vertroudheid wat ʼn Vrystaatse boer in sy mielielande ervaar hier bewerkstellig. Kom kyk aanlyn hoe die tema op die kampus uitgevoer word!

Sol-Tech as instelling

Al speel ambagslui so ʼn integrale rol in die ontwikkeling en groei van die samelewing, ondervind Suid-Afrika reeds vir ʼn geruime tyd ʼn enorme tekort aan ambagslui van gehalte, met alle projeksies wat daarop dui dat hierdie tekort weens Covid-19 versnel gaan word en dat dit in die nabye toekoms eksponensieel gaan toeneem.

Die tekort was destyds reeds groot en instellings wat in die vraag na ambagslui kon voorsien, was min. Die Solidariteit Beweging het reeds in 2006 die behoefte aan tegniese opleiding in Suid-Afrika raakgesien en het besluit om iets daadwerklik daaromtrent te doen. ʼn Vonk is aangesteek en ʼn eie beroepsopleidingskollege is gestig – ons sou self in dié vraag begin voorsien. In 2007 word die eerste treetjie gegee: Sol-Tech, met drie personeellede vir 64 studente, open sy deure.

Danksy die nuwe kampus is dit moontlik om nou meer studente in te neem en het Sol-Tech die getal innames na vier per jaar vermeerder om só nog meer opgeleide ambagslui aan die mark te voorsien.

Tans word agt beroepskwalifikasies (voorheen bekend as ambagte) aangebied, naamlik vir elektrisiëns, dieselwerktuigkundiges, meulmakers, gereedskapmakers, passers en draaiers, sweisers, trekkerwerktuigkundiges en vir outo-elektrisiëns. Uitbreiding om beroepsopleiding in meer rigtings aan te bied, word ook in die vooruitsig gestel.

Kom leer meer oor hierdie unieke kampus van Sol-Tech:  https://solidariteit.co.za/sol-tech-viruele-skoudag/  #BouDieToekoms