Ons kyk dankbaar terug en opgewonde vorentoe
December 15, 2021
Eerste Sol-Tech-opedag vir 2022 vind op 25 en 26 Februarie plaas
February 21, 2022

Meer as ʼn lied – ʼn roepstem

Op 27 Januarie 2022 het Sol-Tech trots sy studentelied, die Sol-Tech Roepstem, bekendgestel. Volgens Paul van Deventer, besturende direkteur van Sol-Tech, is die Sol-Tech-roepstem meer as net ʼn studentelied. “Dit is ʼn lied waarmee ons studente en personeel identifiseer en waarop hulle trots is. Om meer as 400 manne en dames die lied uit volle bors te hoor sing is ʼn trotse belewenis.” 

Studentetradisies en ʼn unieke studentelewe is aspekte waaraan Sol-Tech veral hard werk om op sy kampus in Monumentpark te vestig. Eerstejaarskampe, die Vonkfees, kuiergeleenthede en nog meer vorm deel van dit wat ʼn student gewaarborg is om as deel van sy/haar studente-ervaring te beleef.

Dit was juis tydens een van die sing-along geleenthede by ʼn eerstejaarskamp wat daar ʼn behoefte onder die studente ontstaan het om ʼn eie Sol-Tech-lied te sing. So gesê, so gedaan. Volgens Van Deventer wou Sol-Tech vanuit die staanspoor ʼn lied die lig laat sien wat die Christelike karakter, roeping van die personeel en studente, en die strewe om ʼn beter, hoopvolle toekoms te bou, beskryf. Natuurlik moes die lied ook die verhaal van die unieke ambag- of beroepsopleidingsomgewing waarin Sol-Tech funksioneer, met sy sterk fokus op handewerk, vertel.

Merkwaardige kunstenaars is genader om deel van die ontwikkeling van die lied te vorm:

Mari Bosman, as liedjieskrywer, het dadellik verstaan wat Sol-Tech wou doen en die lied is binne ʼn uur in een van Mari se vry periodes (sy is ook ʼn onderwyseres) geskryf, met ʼn skooltafel wat as trom moes dien. Voeg daarby die voortreflike stem van die sanger Ruhan du Toit en jy weet jy het ʼn wenkombinasie.

Volgens Monia Boshoff, elektries-student by Sol-Tech, is die lied ʼn kragtige roepstem wat Sol-Tech in al sy fasette beskryf: “Die lied beskryf hoe ons as studente elke dag aan ons drome en toekoms bou.” Vir meulmakerstudent Francois van der Merwe is die lied deel van sy  kultuur: “Die lied is ʼn simbool van jongmense wat saamstaan om waardegedrewe te bou en aan hul eie toekoms, dié van hul kinders en aan ʼn beter toekoms vir Suid-Afrika te werk. Die Sol-Tech-roepstem is ons kultuur, dis ons hoop en ons vashouplek.”

Die Sol-Tech-roepstem kan vanaf 27 Januarie op alle musiekstromingsplatforms afgelaai en geluister word.

Video deur Forum Films met Mareli Theron as die vervaardiger en Pierre Malan as die regisseur. Die Sol-Tech Roepstem is deur Mari Bosman geskryf met Ruhan du Toit as kunstenaar.

Kyk gerus na die video hiér: