“Met harde werk én BAIE lekker tye het ek my Sol-Tech-studies suksesvol voltooi!” So sê Zander Cronje, ‘n vervoer-elektriesstudent wat op 20 Junie 2024 een van 36 studente was wat tydens die Junie-promoveringsplegtigheid na die indiensopleidingsfase van hul studies gepromoveer het.
Zander is tydens die funksie op Sol-Tech se kampus ook as die toppresteerder in sy ambag aangewys.
Die promoveringsplegtigheid is ‘n prestige geleentheid waar die studente, hul ouers en die lektore saamkom om die student se harde werk te beloon en te vier. Die diesel-, vervoer-elektries-, pas-en-draai- en sweisstudente wat oor die verhoog gestap het kan sowaar trots voel! Daar is vyf promoveringsplegtighede deur die jaar.
Zander het in April 2023 met sy studies by Sol-Tech begin en vertel dat hy die tydperk op kampus ongelooflik baie geniet het. “Die lewenslange vriende wat ek hier gemaak het, die ongelooflike lektore en die kennis wat ek opgedoen het, sal ek die res van my lewe met my saamdra,” sê Zander.
Zander het die liefde vir sy ambag van sy pa gekry, wat self ‘n vervoer-elektriesewerkswinkel het. So het Zander vakansies sy hande vuilgemaak en besef dat dit ook is wat hy wil doen.
By die vraag oor wat hy aan voornemende Sol-Tech-studente sal wil sê, antwoord Zander dadelik dat jy bereid moet wees om baie hard te werk, maar dat jy ook die balans tussen werk en speel moet handhaaf. Hy moedig studente aan om goeie vriende, en vriende wat goed vir jou is, te maak. “Jou vriende moet jou in die regte rigting druk en aanspoor om jou beste te gee,” sê hy.
‘n Eie vervoer-elektriesewerkswinkel vorm deel van sy toekomsdroom, maar vir nou gaan hy vir die volgende 14 maande eers fokus op die indiensopleidingsfase van sy studies, wat hy moontlik by ‘n maatskappy in Rustenburg gaan voltooi.
Baie geluk aan die volgende toppresteerders, julle maak vir Sol-Tech baie trots:
Vihan Alberts (Diesel)
Henco Laubser (Pas-en-draai)
Zander Kriel (Sweis)
Zander Cronje (Vervoer-Elektries)
Robin Hammann (Leierskapsbeurs)