Nuwe Sol-Tech-kampus ʼn baken van hoop vir jongmense
November 26, 2020
Sol-Tech gaan onverpoosd voort om die nuwe kampus, veilig en gesond, in gereedheid te bring
January 15, 2021

Môre begin vandag – ook in 2021!

Beste Vriende

Aan die begin van 2019 het Sol-Tech hom tot die leuse “môre begin vandag” verbind. Op daardie stadium was ons nog besig met die nuwe kampus se beplanning en ons kampusdroom het nog so ’n bietjie soos ’n lugkasteel gevoel. Ons het elke dag gewerk dat dit klap om eendag op die punt te kom waar die “môre” “vandag” is. In September 2019 het ons in geloof die eerste sooi op die nuwe kampus gespit. Sou enige iemand toe van Korona en ’n grendelstaat praat, sou die woorde volksvreemd klink.

Wanneer mens oor 2020 praat, kan ons onomwonde sê dat dit ’n geseënde jaar vir Sol-Tech was. Ja, daar was uitdagings. Ja, dit het gelyk of die grendelstaat ons droom gaan pootjie. Ja, ons moes (en het suksesvol) ons onderrigmodel aangepas om steeds wêreldgehalte onderrig en opleiding vir ons studente te verseker. Ja, ons personeel het weer gewerk dat dit klap (die keer van die huis af) om te verseker dat alles klopdisselboom loop. Ten spyte van alles kon ons aan die einde van 2020 by die nuwe kampus intrek soos aanvanklik beplan – die bouprojek was binne begroting en voor skedule (dankie Kanton). Op 17 Desember hou Sol-Tech sy heel eerste jaarafsluitingsfunksie op die nuwe kampus- met ons families wat saam kuier. Wat ’n voorreg! Dit is hoe “môre” voel!

En hier is ons nou in Januarie 2021 en die jaar voel asof hy klaar effens tande vir ons wys. Daar is onsekerhede, daar gaan uitdagings wees – ons weet weer nie hoe môre lyk nie.

Maar, nou meer as ooit van tevore kan ons vir mekaar sê dat “môre vandag begin”. Die gisters van 2019 en 2020 (en lank daarvoor) is bewys daarvan dat ons in vertroue kan voortgaan om ons roeping na te kom. Ons werk vandag hard om in Februarie ons eerste studente op ons wêreldklas-kampus te verwelkom. Ons werk vandag hard om gehalte onderrig en opleiding te verseker sodat ons die beste toekoms vir ons jongmense kan verseker. Ons bou op die Rots en stel ons vertroue in Hom.

Kom ons pak 2021 in geloof en liefde, met hoop, aan en werk vandag aan môre!

Paul van Deventer

Besturende Direkteur