alumni vertel2

Ons alumni vertel: Sol-Tech het dit vir my moontlik gemaak om die wêreld te sien

Wikus Hirst is in Volksrust gebore en het in Badplaas grootgeword. Nadat hy aan die Hoërskool Ermelo matrikuleer het, was hy onseker oor wat hy ná skool wou doen en het hy eers op die familieplaas gaan werk.

Vandag is Wikus ’n gekwalifiseerde meulmaker by een van die grootste ingenieursfirmas in die privaat sektor in Suid-Afrika en het hy werkservaring in verskeie lande oor die wêreld opgedoen, waaronder Duitsland, die VSA, Mexiko en Indië.

“Ek wil graag vir my ’n toekoms skep by die firma waar ek nou werk. Ek het in Januarie 2017 na Amanzimtoti verhuis en hiér begin werk. Ek geniet dit nog baie en ek glo dat ek ’n seker toekoms vir myself kan skep en vooruitgang by die maatskappy kan maak deur hard te werk.”

Op die plaas het hy dit baie geniet om met sy hande te werk en het hy besef dat hy in ’n ambag wou spesialiseer, spesifiek in ’n meganiese rigting. Op 4 Mei 2015 het Wikus sy eerste dag as meulmakerstudent by Sol-Tech begin, aanvanklik by die N-skool. Hy kan onthou dat alles op dié dag vir hom vreemd was: die stad, sy studies en sy medestudente. Die prentjie het egter gou verander en hy het die lektore beter leer ken, die werk geniet en vriende gemaak. Hy het tydens sy studentejare as Studenteraadslid gedien en het vandag nog kontak met sy studentevriende.

Hy is baie dankbaar vir die gehalte-onderrig wat hy by Sol-Tech ontvang het en dat die dosente die ekstra myl saam met hom geloop het. Hy het egter nie net boekekennis by Sol-Tech opgedoen nie. “Ek het ’n goeie werketiek by Sol-Tech aangeleer. Ek het geleer om hard te werk en om trots op my handewerk te wees.” Hy het ook geleer dat kortpaaie nie ’n opsie is nie – iets is óf reg óf weg.

Wikus het die vrugte van sy harde werk gepluk. Vir die praktiese deel van sy kursus is hy geplaas by ’n werkgewer wat daarna vir hom ’n vaste betrekking aangebied het, en dis dieselfde werkgewer waar hy nou werksaam is. Hy geniet die dag-tot-dag-take van sy werk en hoop om in die toekoms nog vir sy werk te kan reis. Sol-Tech het vir hom deure oopgemaak en hy werk hard om ’n sukses van sy loopbaan te maak!

Nog nuus