Emile Desmore
Emile is ‘n dieselwerktuigkundige van Pretoria wat reeds van kleintyd af daarvan gedroom het om ‘n motorwerktuigkundige te word. Emile was uitgeplaas by ‘n werkgewer in Douglas in die Noord-Kaap waar hy op 5 Mei 2020 klaargemaak het.
In die hoërskool het hy besluit dat hy graag op dieselenjins wil fokus en mense by sy pa se werk het hom van Sol-Tech vertel. Om in Afrikaans te studeer was vir hom ‘n bepalende faktor tydens die keuse van opleidingsinstansie en hy het nie verder as Sol-Tech gesoek nie. Dít was die plek waar hy sy droom wou begin verwesenlik.
Hy het eers sy N1- en N2-kwalifikasie voltooi. Alhoewel die teoretiese gedeelte van sy opleiding nie die gedeelte van sy studies was wat hy die meeste geniet het nie, het hy van die begin af geweet dat dit die boustene vir sy praktiese opleiding vorm en daarom het hy sy beste gedoen om die teorie onder die knie te kry.
Emile kan die dag toe hy Sol-Tech se werkswinkels in Kirkney besoek het soos gister onthou. “Ons het deur die werkswinkels gestap en by die Dieselafdeling was hulle besig om aan ‘n ratkas te werk. Ek het my verkyk aan al die komponente en kon nie wag om self my hande vuil te maak nie.”
Tydens sy praktiese opleiding by die werkswinkels het die werk al hoe meer uitdagend geword. “Die lektore het my baie goed begelei en ek kon nie wag om te begin werk nie. Ek is uitstekend toegerus!”
Wanneer Emile oor die studentelewe en vriende gesels is dit duidelik dat hy hierdie gedeelte van sy studies net so baie geniet het. Hy het steeds sterk bande met sy studentevriende. Ander hoogtepunte vir hom was die opening met Skriflesing en gebed in die oggende en die sweis-opleiding wat deel van die kursus was.
“Ek sal enige iemand wat in ‘n ambagrigting belangstel, aanbeveel om by Sol-Tech te gaan studeer.” Raad aan studente wat binnekort by Sol-Tech begin? “Daar gaan dae kom wat dit voel asof jy nie veel weet van wat jy doen nie, maar jy is besig om ontsettend baie te leer en jy word goed toegerus vir jou toekoms. Dit gaan oor wat jy self daarvan maak.”
Hy hoop om voor einde Junie sy vaktoets af te lê. Hy werk en droom daarvan om oor tien jaar sy eie besigheid oop te meek waar hy met petrol- en dieselenjins kan werk en ander mense in diens kan neem.