Nasionale Ambagdag aangekondig
March 30, 2021
Vroue van staal staan hul man – Lynette Schultz
April 12, 2021

Ons Bou standbeeld tydens Sol-Tech se inwydingsfunksie onthul

Die Ons Bou-standbeeld is op 26 Maart 2021 as simboliek van die inwyding van die kampus deur Flip Buys, dr Dirk Hermann, Marthinus Visser, Henk Schalekamp, Paul van Deventer en Steve Scott onthul.

11 Jaar gelede is die Beiteltjie-gedig in ʼn video gebruik vir bewusmaking oor Sol-Tech se destydse kampus. Hierdie gedig praat ambagstaal en beeld die handewerk, gereedskap en invloed van ambagslui so kragtig uit, dat dit ’n gepaste keuse was om jare later die simboliek hiervan in ’n standbeeld op die splinternuwe Sol-Tech-kampus te verewig.

Die rots waarop die beeld geset is, is tydens die grondwerke van die nuwe kampus geïdentifiseer en bewaar, juis vir hierdie spesifieke doel.

Die drie graniet stawe is afkomstig van die Voortrekkermonument, met oorspronklike beitel merke steeds sigbaar op die stawe. Die bekende beeldhouer, Jacques Müller, het met die unieke kunswerk weereens bewys dat hy ‘n kunstenaar van formaat is – die ryke geskiedenis en erfenis van ambagslui word kunstig vervleg met dié wat nog na hulle gaan kom.

Die volgende vertoon op die plaat saam saam met die gedig:

Hierdie werk is deur die gedig van NP Van Wyk Louw getiteld “Die Beiteltjie” geïnspireer.

ʼn Paar brons hande is op drie granietkolomme geset.

Met hamer en beitel word in Geloof ʼn toekoms vir Gemeenskap, Taal en Kultuur uitgebeitel.

 Die hande is grof, onafgerond en ferm – ambagshande wat ken van hard werk. Hulle werk nie net vir hulleself nie, maar bou voort op wat hulle ontvang het, vir dié wat ná hulle kom.

 Hierdie drie steunpilare is van die oorspronklike graniet waarmee die Voortrekkermonument gebou is – met ambagshande vir Afrikaans.

Die rots is op die Sol-Tech-kampus uitgegrawe en is simbolies van die Rots waarop ons ons instellings bou.

 Net soos die boustene van hierdie majestueuse Monument, hou hierdie stukke Afrika-aarde ons steeds geborge en gegrond.

Beeldhouer: Jacques Müller (2021)