5 Veiligheidswenke vir die gebruik van ‘n kragopwekker
December 15, 2021
Meer as ʼn lied – ʼn roepstem
January 27, 2022

Ons kyk dankbaar terug en opgewonde vorentoe

So aan die einde van die jaar kyk mens graag in die truspieëltjie na alles wat binne die afgelope sowat 330 dae gebeur het. Die groot Sol-Tech-trek en gereedkry van ons nuwe kampus (Desember 2020 en Januarie 2021) voel byna soos ʼn dekade gelede – intussen het hier baie op die Sol-Tech-plaas gebeur.

Ons het vier innames suksesvol afgehandel, met ‘n rekordgetal studente. Verder was daar hoogtepunte soos die openingsfunksie in Maart, opedae, eerstejaarskampe, die Vonkfees, kortkursusse wat vir die eerste keer aangebied is en nog vele meer. Ons kon begin om eie Sol-Tech-tradisies enʼn studentelewe te skep wat mens laat wens dat jy self weer jonk was. Onderrig en opleiding kon voortgaan soos dit moet, met die Sol-Tech-personeel wat meer as hulle kant gebring het om dit laat gebeur. Ons is dankbaar!

Maar ons kyk nie net terug nie, ons kyk ook vorentoe – opgewonde oor wat die toekoms in Suid-Afrika in 2022 vir ons inhou. Wanneer ons met jongmense se toekoms werk, besef ons dat ons met geleende tyd werk en die tyd moet uitkoop. Daar is baie om te doen en ons pak dit met ywer aan. Ons gaan voort met die beplanning vir die koshuis (gereed middel 2023), die ontwikkeling van programme, en om gehalte, indiensneembare ambagslui te lewer.

Ons sê gereeld vir mekaar “môre begin vandag”, maar dit is ook belangrik om ná ʼn suksesvolle vandag bietjie te rus en batterye te herlaai, en daarom wens ons elkeen ʼn lekker rustyd toe. Mag jy en jou familie ook in hierdie tyd weer opnuut van God se liefde bewus word en ʼnware Christusfees saam ervaar. Ons sien mekaar weer in 2022!

Vriendelike groete Paul van Deventer