sol-tech IT

Rekenaarwetenskap of inligtingstegnologie – maak ‘n ingeligte besluit

Sol-Tech bied vanaf April 2023 vir die eerste keer drie Inligtingstegnologie-kwalifikasies aan. Studente kan daarna uitsien om hulself as IT-ondersteuning- en -netwerkspesialis, data- en
wolkspesialis of kubersekuriteitspesialis te bekwaam.

Die vraag oor die verskil tussen rekenaarwetenskappe en ‘n IT-kwalifikasie word dikwels gevra. Alhoewel daar ooreenkomste tussen die vakgebiede bestaan, is daar ook verskeie verskille.

Wanneer ‘n mens na die bou en ontwerp van rekenaars verwys, word daar oorsigtelik na die wetenskap hieragter verwys. Rekenaarwetenskap word gebruik om programme te skryf, webbladsye te ontwerp en inligting van gebruikers in te samel. Hierdie stelsels wat ontwikkel word, gebruik ook netwerke, databasisse en ander tegnologieë om as ʼn geheel saam te werk en waarde tot die gebruik daarvan toe te voeg.

Inligtingstegnologie aan die anderkant verwys na die wyse hoe rekenaars ondersoek en instand gehou word. Die besigheidswêreld, en ook die daaglikse bedrywighede van die mens, word gekenmerk deur netwerke, databasisse, stelsels ensovoorts. IT is gemoeid met die herstel, opstel en onderhouding hiervan. Alhoewel dit baie dieselfde as rekenaarwetenskap klink, word hierdie tegnologie geskep en ontwikkel met behulp van rekenaarwetenskap, terwyl IT die funksionering en gebruik daarvan hanteer.

So sal ‘n rekenaarwetenskaplike die basiese werking van ʼn netwerk verstaan en kan uitbou terwyl IT die netwerk opstel en onderhou. Die stelsels wat ontwikkel word, gebruik netwerke maar die opstelling daarvan val onder IT. Die rekenaarwetenskaplike maak gebruik van wiskunde, algebra en kalkulus, waar IT meer sal fokus op foutoplossingsmetodes.

Hoe besluit ek dan tussen ‘n graad in rekenaarwetenskappe of ‘n IT-kwalifikasie? ʼn Graad in rekenaarwetenskappe bied jou die basiese wiskundige en rekenaarwetenskaplike konsepte wat jou in staat stel om rekenaars en sagteware te ontwikkel. Hierdie grade sluit gewoonlik programmeringstale, datastrukture, kunsmatige intelligensie, masjienleer, ens. in waardeur rekenaars en stelsels verstaan word. Akademia bied so ‘n graad aan. Akademia se BSc- kwalifikasie in Rekenaarwetenskappe stel jou instaat om onder andere rekenaars en stelsels te ontwerp en te ontwikkel deur algoritmiese en wiskundige tegnieke. Besoek gerus hul webblad vir meer inligting oor die en ander kwalifikasies hier.

Sol-Tech se IT-kwalifikasies is spesifiek ontwikkel om aan studente ‘n mededingende voordeel te bied deurdat die kwalifikasies binne ongeveer 103 dae (die maksimum tyd om een van die drie rigtings by Sol-Tech te voltooi) deurloop word. Dit verseker dat studente by die vinnige pas van verandering in die IT-bedryf kan tred hou en hulself voortdurend verder kan bekwaam. Dié kwalifikasies gee ‘n goeie teoretiese onderbou, maar plaas baie klem op die praktiese toepassing daarvan, deur virtuele sessies by die opleiding in te sluit. Studente moet nie net in ‘n boek lees oor netwerke nie, maar dit fisies kan sien en prakties daaraan kan werk.

Sol-Tech het die neiging in die mark raakgesien waar daar klem geplaas word op “micro- credentialling” en “stackable skills” en seker gemaak dat die kwalifikasies dit vir studente moontlik maak om werklik van dag een af ‘n waardevolle bydra tot die werkgewer se IT- behoeftes te kan gee. Sol-Tech het spesifiek die internasionaal erkende CompTIA (the Computing Technology Industry Association) as opleidingsvennoot gekies. CompTIA se programme geniet internasionale erkenning en word in die industrie hoog geag. Só word studente verseker van uitstekende onderrig. 

Die voordeel van die kwalifikasies is dat jy jou voortdurend verder kan bekwaam en so op die voorgrond van ontwikkeling bly.  Die IT-ondersteuning en -netwerkkwalifikasie rus studente toe met die nodige vaardighede en kennis om netwerk-analise, foutsporing en evaluerings, wat ‘n bydra tot enige organisasie se IT-infrastruktuur beplanning en bestuur lewer, uitstekend te kan doen. Die kubersekuriteitprogram fokus daarop om netwerke, toestelle en data te beskerm teen ongemagtigde toegang. ‘n Data- en wolkspesialis help met die ontwerp van nuwe databasisse, moniteer databasisoptrede, interpreteer rou data en omskep dit in bruikbare inligting om datagedrewe besluite te vergemaklik.

Indien jy graag meer oor Sol-Tech se IT-kwalifikasies te wete wil kom, besoek gerus die Inligtingstegnologie-skakel of stuur ‘n e-pos na [email protected]

 

Besoek gerus Akademia se webblad vir die oorspronklike artikel hier 

Nog nuus