Sol-Tech-DNS
May 20, 2021
Wetgewing rakende die beskerming van persoonlike inligting
July 2, 2021

Sol-Tech-alumni verewig kwalifikasies teen muur

Vandat ʼn Sol-Tech-student sy of haar eerste tree met hul veiligheidsskoene op kampus gee, is daar een doel voor oë: Om eendag ‘n rooiseël-sertifikaat te verwerf, en só kop en skouers bo ander uit te staan en jou passie in die industrie te gaan uitleef.

Uitstekende teoretiese en praktiese kennis en die nodige 12 maande lange indiensopleiding by ʼn Seta-goedgekeurde werkgewer is elke Sol-Tech-student se kaartjie om die finale vaktoets te gaan aflê en die gesogte “Rooiseël” as finale kwalifikasie te kry. Voeg daarby harde werk, ʼn goeie skeut selfdissipline en deursettingsvermoë, en jy sien vinnig waarom Sol-Tech se studente ‘n 96% sukseskoers in die slaag van hierdie toets handhaaf met hul eerste probeerslag, en 100% met die daaropvolgende pogings. Die belangrike begeleidende rol wat Ajani (Sol-Tech se privaat plasingsmaatskappy) tydens hierdie proses speel is ook van onskatbare waarde.

Tydens die konseptualiseringsfase van die nuwe Sol-Tech-kampus is daar reeds vroeg besluit dat die kampus so ingerig moet word dat die uniekheid van Sol-Tech en sy studente duidelik op kampus sigbaar moet wees. Die belangrike mylpale, soos om ʼn rooiseël te verwerf, moes deel van die kampus vorm. So gesê, so gedaan. Reg langs die Spilpunt (braai-area langs die parkeerarea) is ʼn baksteenmuur juis om hierdie rede opgerig.

Hiér is daar gedroom van ʼn area waar elke student wat eendag sy/haar rooiseël-sertifikaat verwerf, hul naam deur middel van ‘n plaatjie teen die muur kan verewig. So vorm hulle nie net sigbaar deel van die voortsetting van bouwerk aan jongmense se toekoms by Sol-Tech nie, maar ook van die oprigtingswerk wat daar kollektief deur ambagslui in Suid-Afrika gedoen word. Onmisbare werk, wat deur die nageslagte onthou moet word.

Gedurende die week van 7 tot 11 Junie 2021 het die eerste alumni wat dié belangrike kwalifikasie ontvang het, hul plaatjies teen die muur kom opsit. Een so ʼn student is Raymond Meyer. Raymond het sy elektriese ambag by Sol-Tech voltooi, waarna Ajani hom by ʼn werkgewer vir sy indiensopleiding geplaas het. Hiér het hy die wêreld vol gereis en die nodige ervaring opgedoen om hom uitstekend vir sy toekoms te bekwaam. Na die voltooiing van sy indiensopleiding het hy die finale vaktoets afgelê en sy Elektriese rooiseël-sertifikaat ontvang. Raymond is ook deur die betrokke werkgewer ʼn permanente aanstelling aangebied, wat hy met albei hande aangegryp het. Na etlike jare in die industrie het hy besluit om sy kennis in die opleiding van toekomstige ambagslui te kom terugploeg en is hy as lektor by Sol-Tech aangestel.

Sol-Tech wil graag die alumni wat reeds hul rooiseëls (ongeveer 3375 is vanaf 2008 deur Ajani uitgereik) ontvang het by hierdie inisiatief betrek en sal gedurende die jaar verskeie geleenthede daarvoor skep. Hou gerus sosiale media dop vir meer hieroor.