Sol-Tech bierbrouery met geesdrif afgehandel by fees

Wat kry jy as jy geesdrif, gis, spangees, studente en personeel meng?

‘n Wenner self-gebroude-bier natuurlik!

Op 8 Junie het die bierbrouery wat op die 17de Mei in die Kraal (kafeteria) afgeskop het, spreekwoordelik tot uit borreling gekom.

28 spanne van 6 spanlede elk, wat uit studente asook personeel bestaan het, het mekaar op die 17de Mei die stryd aangesê om in samewerking met Ketelkraal, SPYS, Fowkes Bros, Sol-Tech se Studentesake-span en die 2023 Studenteraad, die beste tuisgemaakte bier te brou.

Die voorskrifte was streng en die kompetisie onder mekaar nog strawwer. Die geleentheid het nie net gedien as gesonde, verantwoordelike studentepret en kompetisie nie, maar was ook ‘n leersame proses. Daar word gehoop dat dit ‘n jaarlikse instelling kan word.

Die brouers moes ‘n voorgeskrewe bier brou, aftap en  bottel.  Hulle moes dit dan voorsit met ‘n beskrywing en unieke naam, vir beoordeling by die bierfees op kampus geskeduleer vir die 8ste Mei. Met die afskop op 17 Mei het elke span ‘n nommer getrek wat aan ‘n tipe bier pakket gekoppel was. Vier soorte bier was in die trekking naamlik “Blond”; “Cream Ale”; “APA” (American Pale Ale) en “IPA” (Indian Pale Ale).

Dit was ‘n driefaseproses van brou en bottel wat oor etlike weke gestrek het:

Fase 1 het die vermenging van die brou pakket behels en fasilitering daarvan het onder een van  Ketelkraal se meester brouers plaasgevind. Streng sanitasie en higiëne was deurgaans deel van die proses en ‘n kritieke vereiste vir sukses op die einde.  Die totale proses het drie tot vier ure geneem waarna elke brousel in steriele 25 l emmers verseël is. Die emmers is toe vir 5 dae teen kamertemperatuur in die skeepshouer agter die werkswinkels geberg.

Op dag 7 van die proses het fase 2 plaasgevind en is die temperatuur van die konkoksies gemeet en gekyk dat die proses verloop soos dit moet.

Fase 3 het op die 24ste Mei plaasgevind: Bottelering van die brousels. Dit was ‘n groot uitdaging en omtrent ‘n gewoeker om met suiker en allerhande geursels die bier te dokter.  Die vloeistof is in spesiale bottels gegiet en moes toe met ‘n lugdigte seël verseël word. Daar is ‘n lekker gelag, gestres en gekuier dié aand. Die bottels is toe weer vir ‘n verdere tydperk teen kamertemperatuur gestoor.

Die spanne moes elk ook ‘n unieke etiket en handelsmerk vir hul produk ontwerp en ‘n pittige beskrywing / storie van hul spesifieke bier se ontstaan voorberei. Daar is behoorlik tot laatnag met woorde en embleme in die proses gewoeker.

Eindelik breek 8 Junie aan: die dag waarop almal gewag het, die dag van beoordeling. Die bottels is sommer vroeg-vroeg al in die yskas geplaas om lekker koud te word. Stalletjies is met groot geesdrif opgeslaan en versier. Die afwagting was tasbaar.  Teen 14:00 het die studente en personeel die kans gekry om by elke stalletjie aan die bier te proe. Die spangees was uitstaande en het vir baie gelag gesorg.

Die paneel van 8 beoordelaars het elke stalletjie volgens die gegewe kriteria beoordeel  (spangees en kreatiwiteit) en die manne en dames het uitgehaal om hulle met staaltjies en selfs opvoerings rakende hul produkte te beïndruk.  Na afloop daarvan is elke span afsonderlik met hul bier na die beoordelaars se tafel genooi en is die regte meesters daar van die (ver)brouers geskei.

White Label (IPA) het uiteindelik deur hul uniek geetikeerde en perfekte bier met die louere weggestap. Hul etikette was ingegrifte geelkoper plaatjies met ‘n kort rympie en prentjie op, wat gebuig is om knus om die bottel te pas. Hul gepaardgaande storie aangaande die bier was eweneens indrukwekkend.

Die span het die wisseltrofee van Ketelkraal sowel as die vleis van 3 rooibokke, wat volgens keuse verwerk sal word, en ‘n bottel Ketelkraal brandewyn gewen. Die wenner bier gaan nou in groter maat by Ketelkraal se perseel verbrou en gebottel word en later van tyd by die Kraal te koop wees.

Die wenspan, bestaande uit Deon, Jandre, Eduard, Christiaan, Schalk, Danny en Mnr Lourens (lektor), het die volgende oor die hele proses te sê gehad:

“Dit was ‘n baie unieke ervaring en ‘n goeie spanbou-geleentheid, dit het verseker die manne nader aan mekaar gebring. Dit was ‘n vreeslik geordende oefening, en die sterilisasie proses (fase 1) was baie lank – maar dit is ‘n baie fyn lyn – dit verseker of sukses of ‘n flop daarmee (sic). Ons sal graag wil sien dat hierdie proses ‘n tradisie by Sol-Tech word en vir die wat wou weet – ons geheime bestanddeel was lemoengeursel, dit was die deurslag, tesame met die ligtheid van die bier en ons kreatiewe bemarking.”  

(Tong-in-die-kies is daar genoem dat die Covid-19 inperking ‘n voordeel ingehou het wat die brouery betref, dit het gesorg vir die uithouvermoë en agtergrondskennis!)

Nog nuus