Eerste studente deurloop die Doen-dit-self-sweiskortkursus
April 19, 2021
Sol-Tech-studenteraad aangekondig
April 29, 2021

Sol-Tech hou eerstejaarskamp

Op 16 en 17 April het 90 eerstejaars op die Sol-Tech-kampus eerstejaarskamp gehou en daar is twee woorde wat hierdie belewenis beskryf: vet pret!

Hoewel hierdie kamp tradisioneel deel van Sol-Tech se studentelewe vorm, moes dit ongelukkig oor die afgelope jaar as gevolg van Covid afgestel word. En wat ’n ekstra voorreg was dit nie vir dié groep eerstejaars om die eerste groep in 15 maande te wees wat hierdie tradisie voortsit nie!

Hierdie kamp vorm vir elke groep eerstejaars wat ingeneem word ’n belangrike fondasie waarop hulle mekaar ook op informele wyse leer ken en tegelykertyd met Sol-Tech en sy personeel kennis maak. Hegte bande word gesmee en lewenslange vriende word gemaak.

Volgens Yolandi Colllins (studentesake bestuurder) het die feit dat die kamp vir die eerste keer op Sol-Tech se kampus aangebied word, die ervaring nog meer spesiaal gemaak.

Vrydagmiddag was daar boeresport(s) met kruiwastoot, eier gooi (die wenner het 21 meter gegooi), driebeenresies, sak-spring en ’n water glybaan. Die gesogte Leon van Wyk-wisseltrofee is aan die wenners van die toutrek-kompetisie oorhandig. Daarna het volleyball en touchies gevolg. Die aand se program het uit Bingo en Cantus in die Kraal (kafeteria) bestaan,  waarna die studente saam gekuier het.

Nie eers die koue en wind kon Vrydagaand die studente se geesdrif keer nie en hulle het steeds tent opgeslaan om te kamp – hoeveel tente omgewaai het en hoeveel daar werklik die aand geslaap is kan niemand bevestig nie.

 Saterdagoggend is met ’n heerlike ontbyt in die Kraal afgeskop waarna 6 kerke uit die omgewing saam met die studente kom Bybelstudie hou het. Daarna het Afriforum Jeug spanspeletjies aangebied. Die studente het lekker saam gespeel, gekuier en is as vriende hier weg – soos net Sol-Tech-studente dit kan doen!