Kom kyk hoe dit by Sol-Tech lyk
March 24, 2021
Leon van Wyk ontvang #JouYster-eretoekenning
March 30, 2021

Sol-Tech-kampus amptelik ingehuldig

Die Sol-Tech-kampus is vandag amptelike ingehuldi. Dit volg nadat die R300 miljoen-projek in Februarie 2021 voltooi is.

“Ons bou vir die nageslag ʼn lewende monument, wat dwarsdeur die sterre loop, ” sê Paul van Deventer, besturende direkteur van Sol-Tech. “Sol-Tech ‘n lewende monument wat gekap is deur duisende beiteltjies. Ons bou vir die nageslag ʼn lewende monument, wat dwarsdeur die sterre loop.”

“Ons is vandag so bevoorreg om nie net deur 12 klippe herinner te word nie, maar deur 1.5 miljoen klippe, boustene wat ons herinner aan wat dit gekos het om tot hier te kom, Wie ons tot hier gebring het en waarheen ons op pad is.”

Die bouprojek het amptelik op 13 September 2019 begin toe die eerste sooi gespit is en is ondertussen onder begroting gebou en vroeër as beplan voltooi om reeds die eerste studente in Februarie vanjaar te kon ontvang, ten spyte van die uitdagings wat die Covid-19-pandemie en die nasionale staat van inperking tot gevolg gehad het.

“Sol-Tech is ʼn lewende monument. Dit is gebou uit die gemeenskap deur die gemeenskap en hoofsaaklik befonds deur die maandelikse R10-bydraes van al ons lede. Elkeen se bietjie het saam ʼn sterker toekoms vir ons kinders gebou,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. “Opleiding is per definisie toekomsgeoriënteerd. Dit kyk vorentoe en berei die jeug voor om te bou aan hul toekoms en ook aan ʼn toekoms in ons land. Terwyl ander vlug na groener weivelde oorsee, in hulself keer en net na hul eie welsyn wil omsien of selfs heeltemal opgegee het, bou ons ʼn instelling om die jeug te bemagtig sodat hulle welvaart vir hulself en hul gemeenskap binne Suid-Afrika kan skep. Die monument is ʼn verklaring dat ons hier is om te bly en om te bou.”

“Hierdie kampus is ʼn merkwaardige prestasie vir die gemeenskap. Dit is ʼn tasbare resultaat van waartoe ʼn gemeenskap in staat is as hy sê: ‘Ons sal self.’ Ons vier hierdie mylpaal vandag saam met elke lid en skenker wat tot hierdie mylpaal bygedra het en is saam met hulle trots daarop. Ons jongmense is veerkragtig. Al wat ons moet doen, is om te sorg vir wind onder hul vlerke. Hierdie kampus en Sol-Tech is die wind onder ons jongmense se vlerke – kom kyk gerus,” sluit Hermann af.

Die publiek word genooi om hul plek te bespreek en deur middel van ʼn skakel self virtueel deur die kampus te toer.