Nuwe personeel sluit by die Sol-Tech-span aan
November 11, 2021
Diesel-studente besoek SAC Trucks
November 25, 2021

Sol-Tech-kampus ontvang internasionale toekenning vir uitnemende eiendomsontwikkeling

Dié goue toekenning is deur die Titan Property Awards (ʼn internasionale platform wat erkenning aan uitstaande eiendomsontwikkelings in verskeie kategorieë gee) aan Kanton Eiendomme toegeken, vir die ontwikkeling van die Sol-Tech-kampus.

Volgens Titan vereer die toekenning die “mees formidabele projekte in argitektoniese ontwerp, interieurontwerp, eiendomsontwikkeling en vaste eiendom”.

ʼn Goue medalje (tweede plek) binne die eiendomsontwikkelingskategorie (sub-kategorie: opleiding) is ʼn uitnemende prestasie. Daar was in die geheel meer as 600 inskrywings vanuit 31 lande wat deur ʼn paneel kundiges beoordeel is. Wat hierdie prestasie nog meer merkwaardig maak, is die feit dat die Sol-Tech-kampusontwikkeling nie terug hoef te staan vir projekte uit lande soos China, Denemarke en die VSA, wie se begrotings (en kapasiteit) soveel groter en meer is nie.

Die pluimpie in die veiligheidshoed gaan aan die ontwikkelaars in die Kanton Eiendomme-span. Kanton Eiendomme is deur Solidariteit gestig en het in 2019 met die bouwerk aan die Sol-Tech-kampus begin. Van der Linde en Venter Konstruksie (konstruksiewerk) en Jeremie Malan Argitekte, wat flair en bekendheid aan die argitektoniese sy van die ontwikkeling gegee het, verdien ook ʼn klop op die skouer.

Hiér is inderdaad ʼn leefruimte in Afrikaans geskep. ʼn Ruimte wat die personeel en studente elke dag in staat stel om verder aan ʼn beter toekoms te bou.