Sol-Tech maak toelating tot ambagsopleding in 2019 ook in 5 dorpe moontlik

Sol-Tech maak toelating tot ambagsopleding in 2019 ook in 5 dorpe moontlik

Vanaf 2019 gaan Sol-Tech vir die eerste keer ’n oorbruggingsprogram vir toelating tot ambagsopleiding by die kollege in vyf dorpe regoor Suid-Afrika aanbied.

Deur hierdie toevoeging hoop Sol-Tech om ambagsopleiding vir meer jongmense, ook in die platteland, toeganklik te maak.

Volgens mnr. Paul van Deventer, besturende direkteur van Sol-Tech, is daar baie jongmense wat nie die geleentheid kry om by Sol-Tech te kom studeer nie omdat hul skolastiese kwalifikasies onvoldoende is. “Hier word nou aan hulle die geleentheid gebied om Sol-Tech se oorbruggingskursus naby hul ouerhuis en in hul eie tyd te doen.”

Dié unieke oorbruggingsprogram van Sol-Tech is spesifiek ontwikkel om aan diegene wat nie aan die voorgeskrewe toelatingsvereistes tot ambagsopleiding voldoen nie, die nodige relevante onderrig te laat deurloop om sodoende toegang tot ambagsopleiding by die kollege te verkry. Die studente gaan die basiese beginsels van relevante vakke soos Wiskunde, Wetenskap, Ingenieursgrafika en -ontwerp, en ambag-spesifieke tegniese vakke leer om sodoende die nodige toepaslike onderbou vir verdere studies te verkry. Skoliere wat tydens hul sekondêre skoolfase die nodige tegniese onderbou wil bekom om sodoende toegang tot Sol-Tech se formele tegniese beroepskwalifikasies te verkry, gaan primêr hierby baat vind.  Die institusionele opleiding vind steeds by Sol-Tech in Pretoria plaas; hierdie oorbruggingsprogram gaan nou net soveel meer jongmense toelating tot hierdie gesogte opleiding by Sol-Tech bied.

Volgens Van Deventer is dit in ooreenstemming met Sol-Tech se oorhoofse visie om jongmense se toekomsdrome met betrekking tot loopbaanontwikkeling deur doelspesifieke opleiding te verwesenlik. Hy beaam dat die aanvanklike belangstelling oorweldigend is en dat die program verder uitgerol sal word indien die behoefte daaraan op meer plekke sou ontstaan.

Hierdie program word al vir ’n geruime tyd deur middel van voltydse kontaksessies in Pretoria aangebied vir studente wat reeds hul skoolloopbaan voltooi het en die Sol-Tech-keuring geslaag het. Vanaf 2019 sal dit egter vir die eerste maal ook deur middel van ’n afstandsonderrigmodel met geskeduleerde kontaksessies in samewerking met vyf skole verspreid oor Suid-Afrika aangebied word. Satellietkampusse op Wolmaransstad (Hoërskool Wolmaransstad), Bethlehem (Bethlehem Voortrekker Hoërskool), Naboomspruit (Hoërskool Hans Strijdom), Worcester (HTS Drostdy) en Klerksdorp (Hoërskool Schoonspruit) verseker dat studente toegang tot gehalte-onderrig in hul eie dorp kan kry. Opleiding gaan aaneenlopend oor ‘n tydperk van 24 weke geskied en leerders moet oor ’n graad 10-sertifikaat beskik.

Volgens me. Carina Wasserman, hoof van Hoërskool Wolmaransstad, glo die skool in beroepsgerigte opleiding en is daarom dankbaar om deel te wees van hierdie inisiatief van Sol-Tech.  “Die werksgeleenthede wat daar in die veld van ambagsopleiding is, sowel as die bewese suksesrekord wat Sol-Tech het om studente tot die arbeidsmark te laat toetree, maak ons opgewonde oor die wonderlike geleenthede wat wag.”

Meer oor Sol-Tech

Die Solidariteit Beweging se beroepsopleidingkollege, Sol-Tech, is ’n opleidingskollege wat ambagsopleiding van hoë gehalte lewer om daardeur ’n oplossing vir Suid-Afrika se vaardigheidstekorte te bied.  Sodoende word verseker dat Sol-Tech se studente ’n blink toekoms tegemoet gaan.

Sol-Tech bied beroepskwalifikasies as elektrisiën, meulmaker, passer en draaier, dieselwerktuigkundige, gereedskapmaker, trekkerwerktuigkundige en sweiser.

Vir meer inligting oor Sol-Tech en die oorbruggingsprogram, besoek gerus ons webblad by www.sol-tech.co.za

Nog nuus