Op 20 Julie 2023 het Solidariteit se Ambagnetwerk weer die JouYster-kompetisie wenners aangekondig en het Sol-Tech se eie Henk Blignaut met die 2de plek weggestap. Dié toekennings word aan die top ambagsman/vrou van die jaar binne die Solidariteit-netwerk toegeken. Enige iemand kan ‘n verdienstelike ambagsman of -vrou nomineer en so erkenning aan hierdie talentvolle mense binne hulle spesifieke vakgebied gee.
Die nominasieproses het op die 14de April gesluit en moes die organiseerders toe deur 1400 genomineerdes vir die top 5 kandidate sif. Elkeen van die top vyf moes ‘n portefeulje, met onder andere kwalifikasies behaal en ook foto’s van projekte waarop hulle trots is, vir beoordeling indien. Die kompetisie was baie styf! Op 20 Julie het die finale evaluasies by Leriba Lodge in Pretoria plaasgevind en is die persoon wat met die louere wegstap gekies en aangekondig.
Sol-Tech is baie trots op die 2de plek wat Henk verwerf het! Hy het vir ons bietjie meer van homself, die nominasie en wat die toekenning vir hom beteken vertel.
Henk sê hy is ‘n gewone “ou” met Christelike waardes, lief vir sy gesin, lief vir mense, wat hou van die buitelewe en help waar hy kan. Hy is tans ‘n senior lektor (Elektries) by Sol-Tech en ‘n gekwalifiseerde elektrisiën. In sy rol staan hy ander lektore by in enige aspek waar nodig of benodig word en werk hy saam met baie bekwame kollegas wat vir niks terugstaan nie, geen uitdaging is te groot vir die span mense nie.
“Ek is deur ‘n onbekende persoon genomineer, wie se besonderhede nie aan my bekend gemaak is nie (ek wou baie graag uitvind wie dit was, maar dit is as konfidensieel bestempel). Dit was beslis vir my ‘n baie groot verrassing, voorreg en ‘n eer.”
“Dit beteken vir my baie om hierdie plek te kon behaal uit soveel ambagslui wat genomineer was. Ek sal indien daar volgende keer weer ‘n geleentheid is definitief skiet vir 1ste plek! Dit beteken dat ek harder sal moet werk om ‘n verskil in ander se lewens te maak en die ambagslui meer in elke opsig te bevorder. Dit is egter ‘n voorreg om met jou talente uit te blink, ‘n mens moet altyd streef vir uitnemendheid en kwaliteit.”
Henk het die volgende wenk vir ander wat ook aan die kompetisie wil deelneem: Werk hard, werk met ywer. Jy weet nooit wie jou raak sien nie . . . net jy weet of dit wat jy gee goed genoeg is. Jou toekoms lê in jou eie hande en met genade en liefde van Bo kan jy enigiets vermag!
Baie geluk Henk! Sol-Tech is baie trots op jou prestasie.