Wat kan ‘n gewig van 198 kg (gesamentlik) honde- en katkos doen? Dit kan help om 700 honde en 400 katte – wat weggegooid, vergete, verwaarloosd en mishandeld agterweë gelaat is – se pensies vir 2 dae vol te maak. Dit is gelykstaande aan 5 groot wieletjie-asblikke vol korrels wat elke dag proporsioneel aan al die diere uitgedeel word.
Soos almal reeds weet hou Sol-Tech elke jaar in September die nou-al-baie-bekende Vonkfees, en ‘n belangrike been van hierdie geleentheid is gemeenskapsbetrokkendheid en liefdadigheid.
Riëtte Viljoen, koördineerder van hierdie spesiale projek, sê die doel agter vanjaar se veldtog was om aan diegene wat nie stemme het en self kan sê wat hul nodig het nie, bietjie aandag te gee. Wollies Diereskuiling in Pretoria-Noord is as 2023 se begunstigde gekies.
Daar was vooraf ‘n behoeftebepaling van wat hulle nodig het gedoen en daar is gevind dat veral hondekos benodig word en dat hulp met betaling van hul reuse veeartsenyrekening by Onderstepoort baie waardeer sal word.
Sol-Tech het, te danke aan die ruim bydraes van personeel, studente en skenkers van buite, buiten die hoeveelheid kos, dit reggekry om in 5 weke die mooi bedrag van R16 113.30 kontant in te vorder.
Met aanvraag van hul nuutste Onderstepoort-rekeningstaat is besluit om die uitstaande bedrag van R13 683.89 daarop direk aan Onderstepoort oor te betaal, en die verskil te gebruik om nog kos aan te koop.
Op 19 Oktober het ‘n afvaardiging van Sol-Tech-personeel, -studente en ook Mielies, Sol-Tech se eie skaaphond, die skuiling besoek om die bewys van die betaling, d.m.v. ‘n seremoniële tjek asook die kos en ook spesiaal gemaakte kolwyntjies as bederf aan die 24 personeellede te gaan oorhandig.
Daar is ook bietjie tyd saam met Mielies se maatjies spandeer en die katte was baie nuuskierig oor die mooi hond wat kom kuier het! Daar is selfs aan die 2 donkies – wat gered is uit ‘n haglike lewe van gebruik as draers van boumateriaal en baie swaar items – Marie-beskuitjies gegee, hul gunstelingbederf. Almal was baie beïndruk met hoe skoon en georganiseerd die perseel en hokke is en hoe mooi die diere versorg word. Die katte en baba hondjies het vinnig in die personeel se harte gekruip en hulle het heerlik saam gespeel.
Ons raai mense aan om gerus oor ‘n naweek of in die komende Desember-vakansie ‘n draai daar te gaan maak en ‘n blikkie of sakkie kos saam te neem, en dalk met ‘n hond of twee ‘n entjie te gaan stap. Die skuiling het ‘n hele paar aktiwiteite deur die jaar waarby enigiemand uit die publiek betrokke kan raak of hulp by kan verleen.
Vir meer inligting besoek gerus Wollies se webblad by www.wollies.org.
Sol-Tech bedank elke persoon wat so onbaatsugtig bygedra het om ons viervoetige vriende se magies vir ‘n paar dae vol te maak. Dit bewys net weer dat ‘n klein bietjie iewers ‘n baie groot verskil kan maak.