Ambagslui vereer tydens #JouYster-toekenningsaand op die Sol-Tech-kampus
Oktober 1, 2021
Nuwe personeel sluit by die Sol-Tech-span aan
November 11, 2021

Sol-Tech-SR sluit die jaar op ’n hoë noot af

Op 27 Oktober het die Studenteraad (SR) ’n jaar vol bedrywighede op ’n hoogteunt afgesluit. En hoe beter sal ’n student dit nou doen as deur ’n lekker braai en sokkiejol?!

Alhoewel daar heelwat beperkings op aktiwiteite gedurende 2021 as gevolg van Covid-regulasies was, kon die Studenteraad steeds ’n hele klomp projekte aanpak en nuwe tradisies vestig.

Aktiwiteite soos die Boerspitus, eerstejaarskampe, gesellige kuiers met kunstenaars soos Jan-Jan-Jan en bloedskenk geleenthede was deel van die aktiwiteite wat die SR gehelp organiseer het.

Volgens me Carla Pieterse, Koördineerder: Operasioneel, was die groep van 13 manne nie net die eerste studenteraad wat op die nuwe Sol-Tech-kampus aangewys is nie, maar het die manne ook 

’n goeie fondasie vir toekomstige Sol-Tech-studenterade gelê. “By Sol-Tech is dit vir ons belangrik om ’n ruimte te skep waar studente op persoonlik en akademiese gebied kan ontwikkel. Die Studenteraad 

vorm ’n belangrike voertuig om hierdie persoonlike ontwikkeling te laat plaasvind.”

Tydens die afsluitingsfunksie van 27 Oktober is die groep ook die eerste groep wat trots hul name teen die Sol-Tech-muur kon verewig.

Studente aktwiteite soos hierdie maak deel van ’n student se totale studeer-ervaring uit en daarom poog Sol-Tech om ’n trotse Sol-Tech-kultuur, wat jy op geen ander plek sal kry nie, te vestig.

Nominasies vir die SR van 2022 is reeds oop en ons is opgewonde om die volgende groep in te huldig!