sol-tech logo
toekenning blog

Sol-Tech vereer met toekenning vir bevordering van Afrikaanse onderwys en opleiding

Sol-Tech se besturende direkteur, Paul van Deventer, is op 26 Oktober tydens die FAK se jaarlikse prestige-aand vir sy leierskap vereer en het ‘n uitsonderlike kultuurprestasie toekenning namens Sol-Tech ontvang.

Van Deventer het die HB en MJ Thom-toekenning namens Sol-Tech ontvang vir die groot rol wat Sol-Tech ter bevordering van Afrikaanse onderwys en opleiding in Suid-Afrika speel.

Van Deventer staan reeds tien jaar lank aan die hoof van Sol-Tech. Hy het in sy ontvangstoespraak na Sol-Tech se beginjare verwys: “Elf jaar gelede, toe ons Sol-Tech met 64 studente begin het, het ons nooit geweet wat vir ons wag nie.  In ʼn onlangse gesprek met Dirk Hermann, uit wie se visie Sol-Tech onder andere ontstaan het, lag ons stilletjies oor baie dinge wat maar onseker en wankelrig was in daardie eerste jare. Ek vra hom toe hoe ons daardie tyd gedink het om met niks, geen staatsbefondsing nie – in Afrikaans – so ʼn groot taak aan te pak.  Sy antwoord was dat die Here mens partykeer met blindheid slaan, en dan lei Hy mens op die regte pad.”  Volgens van Deventer is die sukses van Sol-Tech Sy genade en kom alle eer Hom toe.

Vandag het Sol-Tech nie net ʼn enorme impak op die Afrikaanse gemeenskap nie, maar ook op Suid-Afrika.  Sol-Tech lei in enige bepaalde stadium ongeveer 1 200 ambagslui op. Sol-Tech se studente wat hul opleiding voltooi het se sukses, is indrukwekkend: 94,7% van Sol-Tech se afgestudeerde studente kry goeie werk; 20,2% werk vir hulself; en 37,2% vir maatskappye met meer as 250 werknemers.

Volgens Van Deventer bestaan Sol-Tech se suksesresep uit ’n kombinasie van gehalte-opleiding deur passievolle mense, vir passievolle studente, in ons moedertaal – Afrikaans. “Ek wil graag met hierdie toekenning vanaand erkenning gee aan almal wat bygedra het tot hierdie sukses.  Dit sluit in die mense betrokke by Sol-Tech en ook by ander instellings, soos Solidariteit en die FAK –  mense en instellings wat ons hande sterk maak.”

Van Deventer het verder genoem dat dié  toekenning as motivering dien om Afrikaanse opleiding in Suid-Afrika verder uit te brei.

Die Prestige-aand is ʼn jaarlikse hoogtepunt op die FAK se kalender. Die ander ontvangers van toekennings, is:

  • Dr. Callie Opperman vir die vestiging van private skole in Namibië;
  • Prof. Hans du Plessis vir die stigtingswerk van Afrikaanse skryfskole en sy baanbrekerswerk om Afrikaanse dialekte op te teken;
  • Nicol Stassen vir sy bydrae tot die bevordering van Afrikaans deur die uitgewersbedryf;
  • Johan Vorster, die bekende liedjieskrywer, het die FAK Prestige-toekenning vir uitnemende kultuurprestasie ontvang; en
  • Jacques Müller is vereer vir die restourasie van pres. Paul Kruger se borsbeeld op sy graf.

Nog nuus