Vakante pos: Dieselwerktuigkunde programhoof
June 21, 2022
Kortkursusse by Sol-Tech aangebied
July 1, 2022

Sol-Tech bring die beste in ons na vore

Tydens Sol-Tech se derde promoveringsplegtigheid vir 2022 het Jan van Staden (Studenteraadslid vir gemeenskapsbetrokkenheid) die studente en ouers met die inspirerende woorde toegespreek.

Goeiemiddag mnr. Paul van Deventer, die Sol-Tech personeel, mede-studente en gaste. 

Sol-Tech het die beste in my na vore gebring. Tydens my “toast masters” kursus in Matriek, het ek die beste vordering getoon, in so ’n mate dat ek gevorder het van iemand wat niks gesê, tot iemand wat kan “goeiemiddag” sê. Vandag staan ek voor julle en wil so bietjie van Sol-Tech en my ervaring vertel.

Op Jeugdag is daar vir die studente gevra wat hulle opgewonde vir die toekoms maak. Hendry Reynecke het geantwoord: “Kundigheid wat ’n seker toekoms waarborg”, Danelle Viljoen het geantwoord: “Veerkragtigheid van Afrikaans”, Francois van der Merwe weer: “Fantastiese toekoms” en Gerdre Noeth: “Gemoedsrus van ’n goeie werk.” 

Ek dink hulle almal som presies op waarom ons by Sol-Tech studeer.  Ons het almal met ’n droom Sol-Tech toe gekom. Ons het nie besef wat Sol-Tech ons regtig gaan bied nie.

Ons idilliese toekoms wat ons in ons drome geskep het, het vir ons gerealiseer op die Sol-Tech-plaas. Van die eerste dag af was ons deel van Sol-Tech. Deel van jou mede-studente, deel van die groep, deel van ’n familie. Ek het die voorreg om deel te wees van die studenteraad, wat ’n nuwe tradisie geskep het deur Sol-Tech se eie vlag te ontwerp en die hysing daarvan kon sien gebeur. 

Ons is deel van ons eie toekoms. Sol-Tech het ons ’n studente lewe gebied, ons kon sorgvry op die kampus wees, ons kon deel wees van SPYS, wat moes instaan vir ons ma se kos en die Windpomp om ons dors te les.  Die Spilpunt, want ons is so eg Afrikaans – ons braai vir ontbyt. 

Die Werf bied ons geleentheid om te bou aan ons studenteverhoudings. Tussen klasse bied die Kraal vir ons ’n plek om solank produktief te wees vir die volgende dag se tuiswerk, en ons kan sommer net sit en eet of ontspan.

Op die Werf staan die: “Ons bou-standbeeld”, In die Roepstem sing ons: “Hier’s my twee hande, ek gee wat ek het. In Sy Almag is geloof my krag, Sol-Tech elke dag”. Ons het ons hande na Sol-Tech uitgereik, Sol-Tech het ons hande gevat en, net soos wat die standbeeld die Beiteltjie-gedig van NP van Wyk Louw uitbeeld, ons gehelp om ons beiteltjie te slyp en ons bemagtig om self ons beiteltjie in ons eie hande te kan vat om ons toekoms verder uit te kap. 

Hannes Noëth het vir Sol-Tech die volgende gebed tydens die 120 jaar feesvieringe van die Solidariteit Beweging toegebid: “Laat Sol-Tech ’n baken van hoop in hierdie land wees. Soveel seëninge en genade het U reeds vir ons almal deur Sol-Tech gegee. Laat elke hand wat oplei kragtig bou aan die toekoms van ons mense in hierdie land – hardwerkende, roepingsbewuste, getroue hande wat met ywer diensbaar is.” 
God het ons geseën deur Hannes se gebed te verhoor. 

Ons hande moet nou self verder van hier af gaan en soos Marinette Sparks op Facebook ons studente baie raak opgesom het, sê sy dat sy dink dat elke kaliberstudent wat by Sol-Tech studeer net die positief uit elke negatief kan haal. 

Ons sien uit na ons toekoms en om mnr. van Deventer se woorde te gebruik, “ons kyk dankbaar terug en opgewonde vorentoe.”

Mag elke student onthou dat Sol-Tech ons bemagtig het met kennis en ervaring maar dat ons ons oë op die Here moet hou, waar ons ookal mag gaan. 

Ek sluit af met die volgende stelling wat my Oupa altyd gesê het: “God hou jou op jou knieë sodat mense nie op jou tone kan trap nie.”