Vroue van staal staan hul man- Angelique Jordaan
November 10, 2020

#SoltechKampus2021: Interessante feite

Ry jy in Monumentpark met Solomon Mahlangurylaan naby die Waterkloof Lugmagbasis verby, is jy verstom oor die vordering wat binne net meer as 365 dae met Sol-Tech se wêreldklaskampus gemaak is. In September 2019 was die area woes en leeg, met sand net waar jy kyk. Vandag staan daar ’n gebou wat die verwesenliking is van ’n droom wat 12 jaar terug begin het. Die personeel sal die kampus in Desember 2020 betrek om vroeg in 2021 die eerste studente vir die leerervaring van ’n leeftyd in die klasse en werkwinkels te verwelkom.

Interessante feite:

  • Die eiendom is in 2010 deurKanton Beleggings op ’n openbare veiling gekoop. ’n Stadsbeplanningsaansoek om regte te bekom, is in 2011 ingedien, maar weens politieke inmenging moes Kanton vir sewe jaar veg om die regte te bekom. In 2018 is die saak suksesvol met koste teen die Tshwane-stadsraad gewen, waarna die projek formeel kon afskop.
  • Die terreinoppervlak beslaan 30 719m² waarvan die bruikbare oppervlak ±27 000 m² is. Ontwikkelaars in Centurion sal weet dat die totale oppervlak waarop die geboue staan, twee meter diep uitgegrawe en teruggevul moes word om ’n sekere kompaksiewaarde te behaal. Daarna kon spesiale grondbalkfondasies bo-op hierdie nuwe kompaksielaag opgerig word.
  • Hoewel daar nie gepoog is om ’n groengradering te bekom nie, is baie groenbeginsels in ag geneem tydens die ontwerp. Bewegingsensorligte regdeur die kampus asook ’n moderne lae-energielugversorgingseenheid verseker kragbesparing. Klaskamers en werkwinkels is ontwerp vir natuurlike ventilasie met baie goeie isolasiewaardes in die konstruksiemateriale.
  • ’n 40 000 liter-watertenk en 600 kVa-kragopwekker verleen bystand sodat die kampus steeds kan funksioneer sou die munisipale water- en kragtoevoer onderbreek word.
  • Daar was meer as 140 afsonderlike geleenthede waar betonmengvoertuie die terrein besoek het om 4 000 kubieke meter beton te kom giet. Met elkeen van hierdie besoeke is toetsmonsters na laboratoriums gestuur om die integriteit en sterkte van die beton te toets, en indien ’n fout bespeur is, is die struktuur wat deur daardie besending opgerig is, afgebreek en oorgedoen.
  • Tot op datum is 150 km elektriese kabel geïnstalleer; 8,5 km loodgieterpypwerk; 513 ton staal; 9 459 m² dakplate en kantbekleding; en amper 1,3 miljoen bakstene is gebruik.
  • Tydens die piek was daar sowat 500 werkers op enige gegewe tyd op die perseel werksaam en sowat 20 000 stene is per dag gelê.
  • Die detail is op die planne: Meer as 1 600 A0-grootte detail argiteksplanne vir konstruksie is al uitgereik, 1 500 A0-grootte struktuur- en siviele planne, meer as 100 meganiese ingenieursplanne en 1 350 elektriese planne.
  • Weens die Covid-19-inperking het die beskikbaarheid van staal ’n probleem in Suid-Afrika geword. Plaat-sybekleding vir die geboue was onbekombaar en ernstige vertragings het die bouspanne in die gesig gestaar, aangesien die geboue nie toegemaak kon word om met interne afwerkings voort te gaan nie. Deur die genade kon die laaste 1 500 m² sybekledingsmateriaal, boonop in die korrekte kleur, uit Namibië ingevoer word sonder om die bouskedule te beïnvloed.