#SoltechKampus2021: Interessante feite
November 20, 2020
Nuwe Sol-Tech-kampus ʼn baken van hoop vir jongmense
November 26, 2020

Twee oud Sol-Tech-studente maak ons trots

Ricardo Cloete is ’n Sol-Tech-alumnus wat in 2007 sy studies by Sol-Tech begin het en nog net vorentoe gekyk het. Ricardo (32) het onlangs weer ’n draai by Sol-Tech kom maak, maar hierdie keer was hy nie in die studentebanke nie, maar eerder in sy hoedanigheid as ’n werkgewer.

Ricardo het na afloop van sy studies by Sol-Tech sy rooiseël-kwalifikasie as installeringselektrisiën verwerf en sy eie besigheid op die been gebring. Vandag is hy ’n direkteur by The Energy Gurus, wat regoor Suid-Afrika sake doen met takke in die Kaap, Pretoria en Mpumalanga. Hulle spesialiseer in hernubare energie en lewer ook dienste in weerlig beskermingstelsels, elektriese installasies, ondersteuning kragopwekkers(“back-up generators”), en sonkrag PV-stelsels en waterpompe. 

Ricardo se belangstelling in die elektriese veld het reeds van kleins af begin. Sy pa was ’n meester elektrisiën. Tydens sy studies het hy veral die praktiese modules en indiensopleiding baie geniet. Hy kan spesifiek onthou hoe trots hy gevoel het na afloop van praktiese opdragte, wat hy reg en netjies uitgevoer het.

Ricardo is nie net ’n trotse alumnus nie; hy het besluit om terug te ploeg en het vanaf 2019 Sol-Tech-studente in diens geneem. Een van dié studente is dan ook nou permanent as elektrisiën aangestel. Tydens sy onlangse besoek aan Sol-Tech het hy onderhoude met ’n paar Sol-Tech-studente gevoer om ’n paar vakleerlinge in te neem.

Ricardo se advies aan voornemende studente? “Dit is nie altyd maklik nie, maar jy moet deurdruk en altyd jou beste gee. Werk hard. Onthou, enige werksondervinding is baie belangrik!”

Solly Ntene is ’n oud Sol-Tech-student wat in 2013 as elektrisiën gekwalifiseer het. In 2016 het hy sy eie besigheid begin en hy is vandag baie suksesvol. 

Solly skryf die sukses van sy besigheid toe aan die feit dat hy die voorreg gehad het om gehalte opleiding by Sol-Tech te ontvang. Die boodskap wat Solly aan ander jongmense wil oordra is dat, indien jy iets in die lewe wil bereik en suksesvol wil wees, dan moet jy jouself bemagtig met kennis en opleiding. 

“Daar is vir ons almal ’n plek in die arbeidsmark, maar om daar in te kom, moet ons leer en hard werk.”

Solly is baie beïndruk met die uitbreidings wat sedert sy opleiding by Sol-Tech plaasgevind het en hy beveel Sol-Tech ook vir ander jongmense aan.