sol-tech logo
verskillende ambagte

Verskillende ambagte en die beroepe wat jy kan volg daarin

Skaars 100 jaar gelede was mense daarop aangewese om self te kon doen, herstel en produseer. In die afwesigheid van middele wat jy klinkklaar van die rak af kon koop, was improvisasie aan die orde van die dag. Omdat so baie mense vandag in stede woon, is kinders toenemend minder blootgestel aan handige pa’s (en ma’s) en net totaal onbewus van die ambagswêreld. Sommige van ons vriende weet (of dink hulle weet) van ʼn jong ouderdom af wat hulle eendag wil doen of word, maar die meeste van ons is onseker en maak gevolglik oorhaastige en angstige besluite wanneer dit tyd is om ʼn loopbaan te kies.  Dit is egter normaal om onseker te wees oor jou toekomstige loopbaan, selfs al lyk dit asof almal om jou reeds weet wat hulle wil doen. Die beroepswêreld het heeltemal vernuwe en jou stokperdjie kan vandag jou beroep word.  

Iemand wat tegnies aangelê is, is vaardig met sy hande en kan kreatief dink en skep. ʼn  Gekwalifiseerde ambagsman kombineer twee wêrelde met mekaar, naamlik ʼn goeie teoretiese agtergrond met die uitvoering daarvan in praktiese handewerk in ʼn  driedimensionele omgewing.

Opleiding in ’n groot verskeidenheid ambagte word in Suid Afrika gedoen, deur verskeie metodes. Daar is meer as 100 ambagte!

Alhoewel daar so ʼn groot verskeidenheid van ambagte is, is die gehalte van ambagsmanne en -vroue, en ook hul getalle, in ons land besig om af te neem. Daar word voorspel dat die land teen 2030 ʼn tekort van minstens 30 000 gekwalifiseerde ambagslui per jaar gaan hê. Dit is baie! Die groot tekort aan onder meer bekwame elektrisiëns, sweisers, motorwerktuigkundiges en ketelmakers bring mee dat hierdie beroepe van die hoogste aanvangsalarisse betaal. 

Ambagslui in Suid-Afrika tel dan ook onder die top beroepe met die hoogste inkomstetrajek namate ondervinding en spesialisvaardighede opgedoen word. Sweisers en ketelmakers het die hoogste aanvangsalarisse en beklee van die hoogs betaalde posisies, wat die behoefte aan bekwame ambagslui onderstreep, lui ʼn verslag deur die outomatiese werwingsplatform, Giraffe. Dit druis ook in teen die persepsie dat handewerk nie ’n lewensvatbare loopbaanopsie is nie. Selfs die dokter, prokureur en professor moet die loodgieter uitroep en sy motor na ʼn werktuigkundige neem.

Ambagslui is noodsaaklik vir die land se strategiese infrastruktuurprojekte, en ʼn tekort aan goed opgeleide ambagslui het ook ʼn direkte invloed op die land se ekonomiese groei en werkskepping. Dink byvoorbeeld aan die konstruksie van treinspore, die installering van die eerste straatligte, die oprigting van goudmyne, die werk van instansies soos Eskom en Yskor en die bou van die Voortrekkermonument. Ambagslui het deur Suid-Afrika se geskiedenis ʼn  kritieke rol in ons land se vooruitgang gespeel!

Sol-Tech strewe daarna om toepaslik vir die uitdagings van die arbeidsmark en die vierde nywerheidsrewolusie te wees.  Ons leerprogramme voorsien daarom in die behoefte volgens die amptelike lys van skaars vaardighede, en verder ook in industriële behoeftes om so te verseker dat studente ʼn volhoubare kwalifikasie verwerf. Met 94,7% van ons studente wat binne ses maande na voltooiing van hul studies werk kry én uitstekend presteer, is dit duidelik dat ons opleiding relevant is en dat ons studente die arbeidsmark suksesvol betree.

Formele opleiding in die onderstaande studierigtings word soos volg aangebied:

Outo-elektries: ‘n Outo-elektrisiën is verantwoordelik vir die installering, instandhouding en herstel van elektriese stelsels en toestelle in voertuie, trokke en busse. Hulle werk op al die komponente wat deel uitmaak van ’n voertuig se elektriese sisteem insluitend die battery, aansitter-motor, alternatorbedrading en verbindings.

Diesel- en Trekkerwerktuigkunde: ʼn Dieselwerktuigkundige is verantwoordelik vir die voorkomende instandhouding en herstel van dieselenjins en voertuie, wat insluit passasiersvoertuie, groot vragmotors, busse en swaar masjinerie soos hyskrane, trekkers en padskrapers.

Elektries:  ʼn Elektrisiën kan werk op die aanwending van enkel- en driefase-elektrisiteit in die industriële en huishoudelike omgewing. Hulle kan ook in ʼn elektronika- of PLC-programmeringsrigting spesialiseer.

Gereedskapmaker: ʼn Gereedskapmaker moet spesifieke gereedskapstukke (matryse en setmate)  uit roumateriaal teen fyn toleransie kan vervaardig. Hiervoor gebruik hulle toerusting soos CNC-draaibanke, slypmasjiene en boormasjiene.

Meulmaker: ʼn Meulmaker fokus op die herstel en installering van meganiese masjinerie en toerusting wat elektries aangedryf of beheer word. Hy kan werk op laers, ratkaste, remstelsels, pompstelsels en hidroulika.

Passer en draaier: ʼn Passer en draaier is verantwoordelik vir die bestudering van bloudrukke, planne en tekeninge om dele van masjiene te kan konstrueer, monteer, vervaardig en inpas. Hierdie persoon is ook verantwoordelik vir die instandhouding en herstel van verskillende soorte masjinerie.

Sweis:  Sweisers werk vanaf bloudrukke of spesifikasies en gebruik hul kennis van metale en lastegnieke om verskeie tipes metale aan mekaar te sweis. Hulle kan ook spesialiseer in onderwatersweis, drukvate en hoëdrukpype vir vervaardiging.

Baie van ons studente maak gebruik van die Helpende Hand Studiefonds wat rentevrye studielenings aan Sol-Tech-studente bied. Sol-Tech-studente kan drie keer per jaar aansoek doen om ʼn gedeeltelike, rentevrye studielening vir die daaropvolgende inname te bekom. Vir meer inligting besoek gerus www.studiefonds.co.za

Miskien is jy nog onseker oor wat jy eendag wil doen, maar as Sol-Tech se rigtings enigsins opwindend klink en na iets waarvan jy sal hou, maak gerus met ons kontak!

Nog nuus