Vervoer-elektrisiëns hoog in aanvraag

Die outo-industrie ontwikkel teen ‘n snelle pas met die nuutste tegnologie wat in hedendaagse motors aangetref kan word. Dink byvoorbeeld aan die GPS-stelsels en die verskeie vermaaklikheidsstelsels wat in die meeste voertuie wat vandag op die pad ry gesien kan word, om nie eers van die moderne hibriedvoertuie te praat nie.

Iemand met gespesialiseerde kennis moet regstaan om hierdie voertuie te kan diens, installerings te doen en te herstel wanneer dit nodig is. Dit is vervoer-elektrisiëns, of ook bekend as outo-elektrisiëns. Weens die groei en ontwikkeling in die industrie word hierdie beroep op die Departement van Binnelandse Sake se lys van skaars vaardighede vir 2024 gelys.

Wat presies doen ‘n vervoer-elektrisiën? 

‘n Vervoer-elektrisiën is verantwoordelik vir die installering, instandhouding en herstel van elektriese stelsels en toestelle in voertuie, trokke en busse.  Vervoer-elektrisiëns werk op al die komponente wat deel uitmaak van ’n voertuig se elektriese sisteem insluitend die battery, aansittermotor, alternatorbedrading en verbindings.

Alle ander elektriese toerusting en bykomstighede in ’n voertuig, soos die ligte, teendiefstaleenhede en alarms, lugversorging, sentrale sluitstelsels, CAN-BUS, digitale paneelbord, elektroniese kantspieëltjies asook sitplekke, is hierby ingesluit. Vervoer-elektrisiëns is oor die algemeen werksaam in outo-dienssentrums (garages), alhoewel daar heelwat van hulle is wat ook uitgaan na onklaar voertuie.

Wat behels die kwalifikasie wat ‘n vervoer-elektrisiën verwerf?

Sol-Tech bied sedert 2023 die vervoer-elektriese-kwalifikasie aan. Die doel van die kwalifikasie is om leerders vertroud te maak met die nodige kennis en vaardighede om foute effektief te diagnoseer en die installering, inspeksie, herstel en instandhouding van elektriese komponente in voertuie te kan uitvoer. Om hierdie werk te kan doen, word studente geleer om basiese elektroniese beginsels, en die toepassing en werking daarvan in elektroniese komponente van voertuie, asook die voertuigharnas te verstaan en te hanteer.

Ander verantwoordelikhede van ‘n vervoer-elektrisiën sluit die volgende in: die herstel en vervang van elektriese dele van ‘n voertuig waaronder foutsporing, en die herstel van foutiewe bedrading. Die elektriese komponent van die kwalifikasie stel studente in staat om nuwe elektriese komponente in ‘n motor te installeer (bv. radio- en TV-stelsels en brieksisteme). ‘n Hoë vaardigheidsvlak en tegniese kennis word benodig en die student moet met ‘n groot verskeidenheid van krag- en handgereedskap kan werk.

Die opleiding by Sol-Tech word in drie komponente gedeel. Die eerste komponent is teoreties van aard en gee aan die student ‘n stewige teoretiese onderbou. Tydens die tweede komponent kry die student die geleentheid om dit wat hy/sy tydens die teoretiese komponent aangeleer het, prakties in die vervoer-elektriese-werkswinkel toe te pas en te oefen. Hierdie twee fases duur ongeveer 15 maande (aaneenlopend) en vind op Sol-Tech se toonaangewende kampus plaas.

Nadat die student die eerste en tweede komponente voltooi het word hulle by ‘n vooraf goedgekeurde werkgewer vir indiensopleiding van 14 maande geplaas. Ajani (Sol-Tech se privaat werkplasingsmaatskappy) behartig die plasings. Een jaar praktiese indiensopleiding in die industrie word benodig na die suksesvolle voltooiing van werkswinkelopleiding, en daarna kan die student toegang tot die vaktoets bekom om sy/haar Beroepsertifikaat (Rooi Seël) as Vervoer-elektrisiën te verwerf.

Vir wie is hierdie kwalifikasie bedoel?

Studente wat passievol oor voertuie en die elektriese stelsels in motors is en dit geniet om voortdurend te leer.

Vaardighede waaroor ‘n vervoer-elektrisiën moet beskik:

Die vermoë om probleme op te los, goeie kommunikasievaardighede en meganiese aanleg is belangrik om suksesvol in die beroep te wees. Hierdie vaardighede sal die student in staat stel om vinnig nuwe inligting oor meganiese stelsels te verwerk en toe te pas en ‘n goeie begrip van diagnostiese toerusting, wat probleme sal oplos, kan gee.

‘n Goeie meganiese aanleg is belangrike toerusting in ‘n vervoer-elektrisiën se gereedskapstas en sal die student kan onderskei bo die res. Goeie elektriese kennis sal verseker dat hy/sy deur die gebruik van rekenaargebaseerde toerusting, foutsporing op die elektriese stelsels akkuraat kan doen.

Nog nuus