Waaroor wonder jy – ons help graag
BEROEPSKWALIFIKASIES
Die QCTO beroepskwalifikasie is (ingevolge die Skills Development Strategy) ‘n hersiende ambagskwalifikasie wat die historiese ambagskwalifikasies na die vasgestelde uitfaseringsperiode vervang. Hierdie nuwe kwalifikasie is onder die gehaltebeheerliggaam vir ambagte en beroepe (QCTO) op die subraamwerk van die Nasionale Kwalifikasieraamwerk geregistreer.
Die beroepskwalifikasie se kurrikulum sluit baie meer in as net die tegnies-teoretiese onderbou wat tans in die N1 tot N3-vakke aangetref word. As gevolg hiervan kan geen vrystelling vir N-vakke verleen word nie.
Die beroepskwalifikasie is in terme van kredietwaarde vergelykbaar en in sommige gevalle selfs langer as die twee vorige roetes, nl (1) N-vakke plus vakleerlingskap of (2) eenheidstandaardgebaseerde NKR 2, 3 en 4 met die vakleerlingkontrakroete. In beide vorige twee roetes moes die individu aan die regulatoriese vereistes vir toelating tot ‘n ambagstoets voldoen wat ‘n minimum van N2 in 4 vakke vereis plus ‘n minimum van een jaar werksplekopleiding met toestemming van die werkgewer om tot die vaktoets toegelaat te word.
Met die beroepskwalifikasie bepaal die QCTO en NAMB toelating tot die ambagstoets en nie die SETA soos voorheen nie. Sertifikate word ook via die QCTO uitgereik.
Daar is reeds vir die afgelope twee jaar verskeie insette gelewer wat betref die uitfasering en vervanging van die historiese ambagkwalifikasies. Sekere wetgewing en regulasies moet ook eers gewysig word.
Datums vir N-vakuitfasering is vaag, maar die eenheidstandaardgebaseerde kwalifikasies het in sommige gevalle reeds hul einddatum vir registrasie bereik en is tans in die proses van leerderuitfasering. Die Covid-19 situasie mag moontlik ‘n verdere impak op die uitfasering van die historiese ambagkwalifikasies hê.
Sol-Tech is egter reeds in die proses van uitfasering en vind die laaste inname vir die historiese ambagkwalifikasie in Oktober 2020 plaas. Vanaf 2021 sal slegs innames vir die nuwe beroepskwalifikasie hanteer word.
In al vier roetes tot ’n ambag (N-vakke, vakleerlingskap, “learnerships” en beroepskwalifikasies) berus die finale toekenning van die kwalifikasie op ‘n kwalifiserende ambagstoets by Ndledla of enige ander geakkrediteerde vaktoetssentrum en die suksesvolle kandidaat ontvang ‘n artikel 26 rooiseël deur die QCTO.
Individue voltooi dus opleiding in al hierdie gevalle met dieselfde kwalifikasie. Die beroepskwalifikasies soos hersien, fokus net op verskeie aspekte wat nie in die verlede aangespreek is nie – inligting soos effektiewe werksplekvoorbereiding is byvoorbeeld ingesluit. Werksplekopleiding is nou beter gestruktureer deur middel van leeruitkomste, toepassingsvoorskrifte asook ‘n logboek.
TOELATINGSVEREISTES
Alhoewel daar inhoudelik oorvleueling mag voorkom, is die kurrikula vir die onderskeie programme (wat onder verskillende gehaltebeheerliggame ressorteer) nie dieselfde nie. Uitkomste en assesseringskriteria is verskillend en daar word vereis dat studente aan die voorgeskrewe teoretiese modulêre komponente se uitkomsvoorskrifte moet voldoen.
Hierdie kennis vorm ook die onderliggende kennis (underpinning knowledge) vir praktiese uitkomste en is dus deel van die geïntegreerde geheel van die kwalifikasie en die leerprogramme soos aangebied word.
OORBRUGGING
Studente met slegs ‘n graad 9/NCV of graad 10 doen eers oorbrugging. Hierdie program bied die nodige onderbou in wiskunde, wetenskap en vakteorieë. Studente wat oorbrugging doen, moet in alle vakke van die program ten minste 50% behaal. Suksesvolle voltooiing van die oorbruggingsprogram stel die student in staat om vir die beroepskwalifikasie aansoek te doen.
Studente met ’n akademiese graad 11 of 12 sonder die nodige wiskunde, wetenskap en tegniese vakagtergrond, moet ook die oorbruggingsprogram voltooi ten einde die nodige basis te bekom vir die teoretiese vereistes van ambagsopleiding.
Studente wat nie die oorbruggingsvakke met 50% slaag nie, kan nie voortgaan met ambagsopleiding nie.
Toelating tot die beroepskwalifikasie word gebaseer op spesifieke toelatingsvereistes soos voorgeskryf deur die QCTO asook Sol-Tech se eie vereistes. Waar wiskunde, wetenskap en vakteorieagtergrond dus gevestig en suksesvol deurgekom word deur middel van die oorbruggingsprogram, moet studente steeds aansoek doen vir toelating tot die beroepskwalifikasie en ‘n keuringstoets aflê.
Die oorbruggingsprogram ondersteun die student se aansoek in terme van die nodige vakke en slaagsyfers.
AANSOEK
’n Voornemende student kan op Sol-Tech se webtuiste aansoek doen by https://sol-tech-studente.microsoftcrmportals.com/.
Tydens die aansoekproses registreer die student vir een van die opedae en kry ook geleentheid om die keuringstoets af te lê. Alle voltooide kwalifikasies en ’n ID-dokument moet tydens die aansoekproses opgelaai word.
Nadat die student bevestiging ontvang het dat die keuringstoets geslaag is, moet die student op Sol-Tech se studenteportaal registreer.
Sodra ’n voornemende student aanlyn aansoek doen, sal ‘n e-posboodskap gestuur word dat die aansoek suksesvol deur Sol-Tech ontvang is.
’n Skrywe sal kort voor die opedag per e-pos gestuur word om die program van die dag en verdere inligting deur te gee. Studente is ook welkom om Sol-Tech te skakel om te bevestig dat die aansoek en registrasie vir die opedag en keuringstoets ontvang is.
Geen e-pos sal ontvang word wanneer die student se aansoek nie volledig voltooi is nie.
Indien ‘n voornemende student sukkel met die aansoek, probeer die webblad deur Google Chrome oopmaak. Indien jy steeds sukkel, kan jy die inligting op die webblad voltooi, regs klik op die skerm, die vorms druk en saam met die afskrifte van jou kwalifikasies en ID stuur aan navrae@sol-tech.co.za.
KEURINGSPROSES EN KEURINGSTOETS
Die keuringstoets evalueer basiese vaardighede in wiskunde, wetenskap, ruimtelike oriëntasie asook eerste en tweede taalbegrip ten einde seker te maak dat die student aan die vereistes en gestelde standaarde van die leerprogramme sal kan voldoen.
Die keuringstoets se finale afdeling is ’n kleurblindheidstoets. Kleuronderskeiding is van kardinale belang in sekere ambagte en ’n veiligheidsarea waaraan Sol-Tech geweldig aandag skenk.
Nee.
Die keuringstoets se doel is om algemene kennis te toets en toelating tot Sol-Tech te bepaal. Die wêreld van ambagsopleiding stel hoë eise en studente wat nie die keuringstoets slaag nie, word aangeraai om ander nie-tegniese beroepe te oorweeg.
Keuringstoetse word op die onderskeie opedae en inligtingsessies gedurende die jaar afgelê.
Tans word alle opedae en inligtingsessies aanlyn aangebied en word die keuringstoets aanlyn afgelê.
Die toets bestaan uit 6 afdelings en is aan tyd gekoppel. Geen voorbereiding is nodig nie.
Afdeling 1: Persoonlike inligting (geen tydsbeperking)
Afdeling 2: Ingenieurstekene (10 min)
Afdeling 3: Wiskunde (15 min)
Afdeling 4: Afrikaanse geletterdheid (15 min)
Afdeling 5: Engelse geletterdheid (15 min)
Afdeling 6: Kleurblindheid (10 min)
Indien ’n student die afdeling vir kleurblindheid voltooi en daar ’n vermoede bestaan dat kleuronderskeiding ‘n uitdaging mag wees, word die student in kennis gestel en aanbeveel dat ’n professionele opinie via ‘n gekwalifiseerde en geregistreerde optometris of oogkundige ingewin word.
Waar die ambagsrigting waarin ’n student wil studeer uitstekende kleuronderskeiding vereis, byvoorbeeld elektries, word die student ingelig van die risiko’s en ‘n alternatiewe ambagsroete voorgestel.
FINANSIES
Daar is twee opsies vir die betaling van kursusgelde hetsy deur ‘n kontantbetaling of amptelike bewys van finansiering deur ‘n erkende finansiële instelling. Aansoek vir finansiering moet voor die aanvang van die kursus gedoen word. Die administratiewe fooi en deposito moet so gou moontlik na ontvangs van ‘n keuringsbrief betaal word.
Betaling van die administratiewe fooi en deposito dien as bevestiging dat die student die opleiding gaan meemaak. ‘n Faktuur wat onderrig-, opleiding- en handboekkostes weergee, word ongeveer 10 dae na aanvang van klasse gelewer. Hierdie faktuur is betaalbaar binne dertig dae na aanvang van klasse.
Geen student sal op kampus toegelaat word indien kursusgelde nie voor of op die vasgestelde datums vereffen is nie. Studente word na opleiding slegs deur die plasingsmaatskappy Ajani geplaas indien alle gelde ten volle vereffen is.
Paaiement 1: Eerste paaiement gelewer 10 dae nadat studies begin het.
Paaiemente 2-4: Die balans van kursusgelde word versprei oor die oorblywende tydperk wat strek tot 60 dae voor die einde van die praktiese opleiding by Sol-Tech werkswinkels. Die student se rekening moet dus ten volle betaal wees wanneer die student met praktiese opleiding by die werksplek begin.
‘n Staat kan aangevra word by Finansies - annelie@sol-tech.co.za (012-372-9900).
BEURSE EN LENINGS
Sol-Tech bied geen beurs- of leningopsie aan studente nie.
Lede van Solidariteit, Afriforum en Helpende Hand kan aansoek doen om ’n rentevrye studielening deur Helpende Hand. Daar is sekere kriteria waaraan voldoen moet word ten einde te kwalifiseer. Aansoeke vir persoonlike lenings kan ook by ander instansies soos banke gedoen word.
Solidariteit Finansiële Dienste bied ook finansiering aan studente. Besoek die webwerf by https://solidariteit.creditgateway.co.za of stuur ‘n e-pos aan dawid@sfd.co.za.
Wanneer die totale gelde vooruitbetaal word (teoretiese sowel as praktiese fases) word ’n 5%-afslag toegestaan.
Lede van Solidariteit se kinders kry voorkeur vir plasing.
VERBLYF
Sol-Tech beskik tans nie oor eie behuising nie. ’n Lys met privaat akkommodasie in die omgewing is vir studente op die web beskikbaar by https://sol-tech.co.za/verblyf/.
Die betrokke persone kan gekontak word vir kostes en reëlings. Studente wat vanaf Januarie 2021 by Sol-Tech gaan studeer, word aangeraai om akkommodasie naby die nuwe kampus in Monumentpark te soek.
ALGEMENE NAVRAE
Praktiese fase: Hoofkampus (0861-999-880).
STAKING VAN STUDIES
Studente wat studies wil staak, moet ’n stakingsvorm (beskikbaar op die studenteportaal) voltooi en terugstuur aan michelle@sol-tech.co.za.
Indien ’n student klasse bygewoon het en reeds gefaktureer is, is fooie steeds betaalbaar.
Studies kan nie mondelings of per telefoon gestaak word nie. Slegs skriftelike stakings word as geldig beskou.
AANBIEDINGSMODEL
PROGRAMAANBOD
Die beroepskwalifikasie word slegs as ’n voltydse voldagkursus aangebied.
Die oorbruggingsprogram het twee aanbiedingsmodelle in die vorm van aanlynklasse:
- Voltyds (13 weke met elektroniese klasse bedags)
- Deeltyds (24 weke)
Toetse en eksamens word by ‘n sentrum afgelê. Die student kies self uit ‘n lys van beskikbare sentrums dié een wat die naaste aan die student geleë is. (Toetse en eksamens word gedurende die Covid-19 grendeltyd aanlyn afgelê.)
Sentrums is tans beskikbaar in die volgende dorpe:
- Bethlehem
- Worcester
- Naboomspruit
- Klerksdorp
- Wolmaranstad
Ander sentrums in die land word vanaf 2021 in die vooruitsig gestel. Meer inligting in die verband sal beskikbaar gestel word sodra ooreenkomste bereik is.
Nee.
Die volgende ambagte word aangebied: Elektries, Pas en draai, Gereedskapmaker, Meulmaker, Trekker- en Diesewerktuigkunde en Sweis.
Drie nuwe kursusse word vanaf 2022 in die vooruitsig gestel. Hou gerus die media dop vir verdere besonderhede.
Teoretiese aanbieding vind tot einde 2020 op die Tuine-kampus plaas wat geleë is op die gronde van die Hoër Tegniese Skool (HTS) Tuine in Pretoria-Tuine, naby die hoofkampus.
Vanaf Januarie 2021 word alle opleiding by die nuwe kampus te Monumentpark aangebied.
Leerinhoude vergelyk baie goed met die leerinhoude van ander lande soos Australië en Amerika en daar bestaan selfs erkenningsooreenkomste tussen Suid-Afrika en sommige lande.
Studente word egter aangeraai om self by die ambassade van die land van oorweging navraag te doen.
Dikwels word keuringstoetse geskryf wat daarop gemik is om die aansoeker se bevoegdheid te bepaal voordat erkenning aan ‘n Suid-Afrikaanse kwalifikasie verleen word.