Outo-elektries vanaf 2021 by Sol-Tech aangebied
November 3, 2020
#SoltechKampus2021: Interessante feite
November 20, 2020

Vroue van staal staan hul man- Angelique Jordaan

By Sol-Tech is dit duidelik dat die dameskorps ʼn belangrike rol speel om dié goed geoliede masjien klopdisselboom te laat loop. Uit die totale personeelkorps van 70 lede is 39% dames. Tel ʼn mens die gekombineerde aantal jare van al die vroue se diens bymekaar, is die totaal meer as 100 jaar!

Angelique Jordaan is een van Sol-Tech se opleidingslektore aan die praktiese kant. Sy is ʼn selferkende sportverslaafde en langafstandatleet wat al vier keer die Comrades-marathon en ander ultra-marathonwedlope kafgedraf het. Praat ʼn mens met Angelique is dit duidelik dat haar vakrigting vonke in haar wêreld laat opskiet – sy is mal daaroor!

Angelique is passievol oor haar studente en put vreugde daaruit om te sien dat die jong generasie ʼn sukses van hul lewe maak. “Ons lektore by Sol-Tech is baie praktykgerig en wil graag verseker dat die ambagslui van die toekoms gereed en meer as bekwaam is vir die uitdagings van die bedryfswêreld.”

1. Jy is ʼn lektor in elektriese ambagsvakke by Sol-Tech. Hoe het jou loopbaanpad tot hier gelyk?

Ek is op die oomblik ʼn lektrise in elektriese, elektroniese en PLC-kursusse by Sol-Tech. Ek het direk ná skool met my ambagsopleiding by BMW SA (Rosslyn) in Pretoria begin. Daar het ek Megatronika gestudeer en my as ʼn meulmaker gekwalifiseer. Ek en ʼn spanmaat het Suid-Afrika in 2017 in Megatronika by die Worldskills-kompetisie in Abu Dhabi verteenwoordig.

Nadat ek my ambagskwalifikasie verwerf het, het ek ondervinding by verskeie maatskappye opgedoen, onder meer as ʼn senior robottegnikus en later as ʼn lektor.

2. Hoe lyk jou dag-tot-dag-werksaamhede?

Elke dag se take verskil. Ek probeer om elke dag my uiterste bes te doen om ten alle tye gehalte-opleiding aan die studente te verseker. Of dit PLC (programmeerbare logikastelsels), Elektronika (LED’s wat flikker) of Elektrisiteit is waar alles bymekaarkom en die ligte laat brand en die motors van die hysbak laat werk is – dit is belangrik om die regte boustene te lê. As die studente hier uitstap, is hulle omtrent ʼn sparkie in hul ambag.

Ek werk tans in ʼn span saam aan ʼn projek waar ons die PLC-panele vir die nuwe Sol-Tech-kampus ontwerp en bou.  Ons betrek die studente ook hierby deurdat hulle aan die panele help bou. Só doen hulle waardevolle PLC-ondervinding op.

3. Die ambagswêreld word tradisioneel as ʼn manswêreld gesien. Hoe ervaar jy die praktyk?

Dit is so, die samelewing is geneig om veral die elektronika-omgewing as ʼn mansomgewing te sien. Maar, daar is al hoe meer vroue soos ek wat hul roeping in ʼn tegniese rigting uitleef en ʼn sukses daarvan maak. Regdeur my opleiding was ek nooit heeltemal vroualleen nie, maar vroue was wel altyd in die minderheid. Ek was in ʼn tegniese hoërskool waar ons in graad 12 net 15 meisies was teenoor die sowat 160 seuns in die graad. In my opleiding by BMW was ons altesaam agt vroue uit ʼn groep van 30 studente. Maar,  vroue vaar goed in die tegniese “manswêreld,” maak nie saak watter rigting jy inslaan nie.

Ek dink daar is talle wanpersepsies oor vroue in my rigting.  In die verlede (in ons ouers en hul ouers se tyd) is die ambagswêreld tradisioneel gesien as ʼn omgewing vir mans, terwyl vroue eerder in die rol as verpleegsters gepas het. My ouma was haar lewe lank ʼn suster by 1 Militêre Hospitaal in Pretoria. My oupa het sy ambag as sweiser en my pa sy ambag as ʼn diesel-elektriese-passer by die destydse Spoorweë voltooi. Nou is sy dogter ʼn meulmaker.

4. Watter vroue inspireer jou, en waarom?

Caroline Wöstmann, die bekende ultra-atleet en Comrades- en Two Oceans-wenner. Ek het waardering vir die feit dat sy so plat op die aarde is, alhoewel sy die eerste Suid-Afrikaanse vrou is wat die Comrades in 17 jaar gewen het.

5. Watter unieke eienskappe dink jy bring vroue na die werkplek?

Vroue is baie meer geduldig, werk netjies en is verantwoordelik.