Ons Bou standbeeld tydens Sol-Tech se inwydingsfunksie onthul
March 30, 2021
Eerste studente deurloop die Doen-dit-self-sweiskortkursus
April 19, 2021

Vroue van staal staan hul man – Lynette Schultz

Geskryf deur Melodie Veldhuizen

Hoewel ambagte tradisioneel steeds gesien word as ‘n beroep wat hoofsaaklik deur mans beoefen word, is daar heelwat vroue wat met trots hul skoene in tegniese beroepe volstaan. Ons gesels met Lynette Schultz, ‘n gekwalifiseerde elektrisiën en tans Leerprogramme-koördineerder by Sol-Tech waar sy leerprogramme vir al agt ambagte wat daar aangebied word (elektrisiën, meulmaker, dieselwerktuigkundige, outo-elektrisiën, sweiser, gereedskapmaker, trekkerwerktuigkundige en passer en draaier) koördineer en help ontwikkel.

  • Wat is jou ambag?

Ek het my rooiseël in Elektries en is dus ’n gekwalifiseerde elektrisiën.  Ek het in 2012 by Sol-Tech begin werk as ‘n lektor in teorie waar ek ingenieurstekene (Oorbrugging, N1 en N2), tegnologie en N2-wiskunde aangebied het.  Gedurende die drie jaar was ek ook nog deeltyds besig met my ambagstudies en het my praktiese ure (studies) gedurende 2015 voltooi.  In 2015 het ek my laaste prakties vir my ambag-opleiding by Multinet Systems voltooi.  Aan die einde van 2015 het ek in die Elektriese Werkswinkel by Sol-Tech praktiese klasse begin aanbied vir die studente en gedeeltelik ook begin help het met die ontwikkeling van die leermateriaal vir die elektriese beroepskwalifikasies.  Aan die einde van 2019 het ek vanaf ‘n praktiese lektrise verskuif na die afdeling waar ek tans werksaam is.

  • Vanwaar hierdie belangstelling?

“Ek was in ‘n tegniese hoërskool, maar my belangstelling is deur my oupa Koot (en my wettige voog sedert 2006 ná my ma se afsterwe) aangewakker.  Hy was ‘n meulmaker vir Yskor en het later sy eie kontrakteursonderneming begin waar ek vanaf die ouderdom van 14 jaar elke naweek, op vakansiedae en in skoolvakansies saam met hom gaan werk het.  Hy het altyd gesê dis om my uit die kwaad te hou.”

  • Watter vaardighede en persoonlikheidseienskappe is ‘n vereiste?

“Uithouvermoë is die belangrikste, selfvertoue en ‘n baie goeie kognitiewe vermoë.  Daar is natuurlik ander vaardighede ook, maar in my opinie sal ‘n vrou wat nie uithouvermoë en baie selfvertoue het nie, werklik stoei om oor die stroom te kom.”

  • Waar het jy jou opleiding ontvang?

“Ná skool is ek na Denel se tegniese kollege, waar ek ambagsopleiding in vliegtuig-avionika (AircraftAvionics) ontvang het. Ek het egter nie werk gekry om my praktiese opleiding te voltooi nie, en deur ‘n sameloop van omstandighede is ek terug na elektries en elektronika. Ek het by ‘n elektroniese maatskappy begin werk, terwyl ek my N4, N5 en N6 in elektronika en elektries deeltyds aan die Tshwane South College voltooi het. Terwyl ek al by Sol-Tech gewerk het, het ek aansoek gedoen om my vaktoets (rooi seël) op RPL by Qualitas Training Centre te voltooi nadat ek die nodige praktiese werk voltooi het.”

  • Hoe het jy jou manlike medestudente ervaar?

“Die eerste dag was maar vreemd en ek sal nie vergeet nie hoe een student vir my gevra het: ‘Het jy dalk die Admin-klas gemis? Ek dink jy is verdwaal.’ Maar dit was baie lekker om saam met mans te studeer. Wat my ook baie gehelp het, is dat my kêrel, wat nou my man is, my baie ondersteun het. Hy het ook saam met my op dieselfde perseel studeer, wat my nogal veiliger laat voel het. Selfs toe ek nauurs gestudeer het, was ek die enigste vrou op die perseel. Maar daar was altyd ‘n mansstudent naby wat my veiligheid as vrou in ag geneem en my ondersteun het.”

  • Hoe tree jou manskollegas teenoor jou op?

“Aanvanklik was die idee van ‘n vrou in die manswêreld my grootste bekommernis. Maar ek is bevoorreg dat ek nog altyd met respek behandel is. Sodra jy as vrou in ‘n tegniese veld instap, moet jy twee keer harder werk om vertroue op te bou en vertroue in die werkplek kan jy slegs verdien. Wat dit moeilik gemaak het, is dat die mans aanvanklik gemeen het hulle kan nie ‘n vrou toelaat om ‘n leer te dra of met ’n sweismasjien werk of met ’n hoekslyper te werk nie. Aanvanklik was dit my grootste uitdaging totdat ek op ‘n dag besluit het ek is nie in die tegniese bedryf om te staan en kyk hoe die mans werk nie. Ek gaan self. Só het ek begin om gedurende my etenstye en teetye te werk terwyl die mans nie daar was nie. Ná die tyd kon toe net sê: ‘O, dis klaar gedoen.’ Ek het dit net so ‘n paar dae gedoen, toe besef hulle ek weet eintlik wat ek doen en ek is hier om te bly.

Daar is sekere dinge wat vroue nie ten volle kan aanpak nie omdat ons liggaamlik nie so sterk soos mans is nie.  Boonop is ek klein gebou en het omtrent ‘n leer nodig om by die distribusiepunt (DB) uit te kom, maar ek kan in ruimtes inkom waar baie mans nie kan inkom nie!

Ek het al saam met mans van verskillende ouderdomme en kulture gewerk – van jonk tot baie ervare.  Dit was opvallend dat die verskillende kulture ‘n vrou in die ambag verskillend hanteer.

Ek het geleer dat wanneer ek saam met ‘n man op ‘n gebied werk wat hy moontlik meen sy gebied is,  moet ek hom as individu respekteer en onthou dat ek daar is vir die unieke vaardigheid wat ek kan bied. Wees dus net die beste van jouself. Ek het ook geleer om nooit te wys dat ek 100% verstaan nie want die meeste inligting wat ek versamel het, was van my kollegas wat al jare lank in die bedryf is.  Dis vir my lekker om te luister hoe ander oor hul passie in die ambag praat.”

Mans wat al jare lank in die bedryf is, wil nie sommer ‘n vrou se opinie hoor nie.  Maar dit het my ‘n nuwe vaardigheid laat aanleer, naamlik hoe om sekere inligting oor te dra sodat ek nuuskierigheid by ander kweek wat dan wil luister.

Ek het baie keer gehoor: ‘Jy is net ‘n vrou. Wat weet jy?’ Ek antwoord gewoonlik: ‘Ek weet dat ek hier is omdat ek oor die nodige vaardigheid beskik en dat ek ‘n opinie het. So wat dink jy van my opinie, of het jy ‘n antwoord op my vraag?’

Mans besef ook vinnig dat ons vroue meer geduld (uithouvermoë) as hulle het wat ons help om prosesse en foutsporingstake makliker te voltooi.  ”

  • Wat is ander vroue se reaksie wanneer hulle besef dat jy ‘n ambag beoefen?

“Die meeste is geskok en vra altyd hoekom ek dit wil doen – wil ek heeldag tussen ‘n klomp mans wees?  Baie mammas het al vir my gevra hoe ek vir my kind gaan verduidelik dat ek in dakke rondkruip. As ‘n vrou kontrakwerk by iemand se huis wil gaan doen, sê ‘n vrou gewoonlik néé dankie.  My oulike man, wat ‘n werktuigmasjienmaker is, kry gewoonlik die werk, dan gaan doen ek dit.  Maar ek hou baie van die werk en beoefen dit steeds in my privaat hoedanigheid.

Vir my is dit nie net werk nie.  As ek nie lekker voel nie of ek het net ‘n verposing nodig van my daaglikse werk, geniet ek dit om net iets uitmekaar te haal te toets en wéér aanmekaar te sit.

Die vroue in my familie dink ek is die coolste vrou wat hulle ken, maar hulle weet watter pad ek gestap het om te kom waar ek nou is.  Dit maak regtig nie saak wat ander van jou dink nie, maar wat my hart warm maak, is as my ses jaar oue seuntjie sê sy ma en pa kan enige iets ‘fixes’”.

Hierdie artikel is oorspronklik op 23 Maart 2021 op https://gildes.solidariteit.co.za gepubliseer. Lees die oorspronklike artikel hier: https://gildes.solidariteit.co.za/vroue-in-ambagte-lynette-schultz-n-gekwalifiseerde-elektrisien-gesels-oor-haar-loopbaan/