DSCF6340

Wat maak ‘n Vonkfees so lekker?

Is dit die blitsvinnige kaskarre waaraan die studente behendig vir weke vooraf beplan, timmer en werskaf? Die uitdaging van die dodelike een kilometer-baan (vra enige student, dit voel baie langer) op die dag self? Of is dit die kuier en sports na die tyd?

Vra jy enige student en hulle sal dadelik antwoord dat dit ‘n kombinasie van dié faktore is wat die kampus laat bruis van opgewondenheid en dit sommer net lekker maak. Die gevoel van samehorigheid is moeilik om te verwoord maar tog tasbaar daar.  Soos die speke van die kaskarre se wiele vorm dit saam die studentepret, en elkeen wat daar is, deel daarin.

Op 4 September het die student oudergewoonte oppi Sol-Tech-plaas saamgekom om aan die Vonkfees deel te neem. Op die dag kuier studente, lektore en personeel saam vir ‘n goeie doel. Sestien spanne het deelgeneem en elke span moes ‘n land verteenwoordig. Dit het verseker dat die Haan van Frankryk, die Greece Monkeys, Swizzy, Italia, Down Unda en nog meer buitelanders ‘n Pretoria-draai kom maak het om deel te neem.

Volgens Francois Noome (Studentesake Koördineerder) is die Vonkfees ‘n hoogtepunt op die studente se kalender. “Die Vonkfees bied die ideale geleentheid om pret met omgee te kombineer. Hierdie jaar koppel ons die Vonkfees aan die Skooltassieprojek van Solidariteit Helpende Hand en moedig ons die studente, personeel en vriende van Sol-Tech aan om tot die belangrike projek by te dra” het Noome gesê. Die hele September is hiervoor geoogmerk en enige skryfbehoeftes of kontant kan in die Opstal (die administratiewe gebou op kampus) geplaas word.

SPYS het vir heerlike kos en ‘n nat keel op die warm dag gesorg en Eloff het die bekende “neem my op vlerke” oor die kampus laat opklink.

Uitslae van die dag:

Meeste rondtes met die kaskar om die baan:

  1. Suid-Afrika
  2. Nieu-Seeland
  3. Poland

Span met die beste gees:

  1. Finland
  2. Suid-Afrika
  3. Nieu-Seeland

Kreatiefste kaskar, tema en kreet

  1. Italië
  2. Portugal
  3. Engeland

    Nog nuus