Op 28 Oktober 2022 het Sol-Tech tydens ‘n glansgeleentheid 15 jaar van harde handewerk gevier.
Sol-Tech is in 2007 begin met 3 personeellede en 64 studente en lewer sedertdien gehalte ambagstudente aan die industrie. Onlangs het ons die 100-personeellede kerf oorgesteek, met meer as 2 200 studente in die pyplyn op enige stadium.
Mens kan eintlik sê dat Sol-Tech se kernbesigheid uit handewerk bestaan. Hande wat elke dag onderrig en leer, dienste verrig. Hande wat bou, kap, breek, in toleransies van ‘n duisendste van ‘n millimeter werk en kunstig vorm. Maar ook die bou op vele ander terreine, wat deel vorm van die groter Solidariteit Beweging.
Dit is die handearbeid van geslagte van ambagslui, vervleg met ‘n droom wat 15 jaar terug begin het, gemeng met mense wat roepingsgedrewe aangehou bou het, en wat vergestalting vind in elke student wat vandag by Sol-Tech studeer en dié wat ná hulle nog vaardighede hier gaan kom slyp en ontwikkel.
Tydens die geleentheid is daar ‘n unieke Sol-Tech-brandewyn, HardeKlip, bekendgestel wat gaste tydens die aand vir die eerste keer kon proe en ook kon aankoop.
Ambagslui het deur geskiedenis baanbrekerswerk gedoen. Harde klippe is gekou en deur hul handewerk is monumente vir die nageslag opgerig. Oor die afgelope 15 jaar lewer Sol-Tech ambagslui wat deel van hierdie erfenis vorm en saam bou.
Mag ons handewerk oor die volgende 15 jaar net so geseënd soos hierdie 15 jaar wees!