Die storie van die Sol-Tech-kampus vertel die verhaal van ambagslui oor geslagte heen. Kom jy met Solomon Mahlangu-rylaan oor die bult aangery sien jy die Sol-Tech-kampus in al sy glorie: majestueus, tog met ‘n gevoel van bekendheid, indrukwekkend. ‘n Tuiste vir duisende studente, ‘n baken van hoop vir jongmense, opgebou deur die hande- en breinwerk van ‘n klomp beiteltjies.
Teen die muur van die Tarentaal-raadsaal pryk daar deesdae ‘n uitsonderlik realistiese uitbeelding van die Sol-Tech Kraal (die kafeteria op kampus). Bekyk jy die skildery van naderby is dit asof jy die moeite, liefde en tyd kan sien wat met elke haal van die kwas teen die doek virewig is om juis dié prentjie van hoop oor generasies uit te beeld.
Wilma van Vuuren is die formidabele vrou wat agter die 1 m x 1.5 m skilderdoek gestaan het. Gesels mens met haar kom jy vinnig agter juis waarom mens die hoop in die skildery sprekend kan sien. Ambagte, ambagslui en die Sol-Tech-kampus se storie is ook vervleg met Wilma se lewensverhaal.
Wilma was die eerste dame in die geskiedenis wat in 1971 op 18 jarige ouderdom ‘n kursus by die Afrox-sweisskool in Germiston geslaag het. Haar liefde vir sweiswerk kom van haar pa by wie sy van kleins af gesit het wanneer hy na-ure diefwering- en staalwerk gedoen het. Sy kon ongelukkig nie destyds self as sweiser werk kry nie aangesien dit in daai tyd taboe was om dames in die beroep aan te stel. Twee van haar seuns het hulle ook as ambagslui bekwaam en as ketelmaker en elektrisiën gewerk.
Haar ander seun, Francois, was vanuit die staanspoor betrokke by die ontwikkeling van die Sol-Tech-kampus in Monumentpark en dit is juis hiér waar Wilma vanaf die grondverskuiwings in 2019 die ontwikkelingswerk van die kampus gevolg het.
Dit is haar liefde vir ambagslui en die belangrike werk wat hulle in Suid-Afrika doen, gemeng met haar eie band met ambagslui, wat haar geïnspireer het om so ‘n groot projek aan te pak. “Die ongelooflike werk wat Sol-Tech vir ambagslui in Suid-Afrika doen, en verál die opheffingswerk van die belangrike beroep, lê my na aan die hart. Dit was ‘n hartsprojek.”
Dit is moeilik om te glo dat sy pas ses jaar terug die verfkwas opgetel en begin skilder het. Tog was sy al haar hele leeftyd lief vir skeppend wees en het al elke stokperdjie onder die son aangepak, van kleremaak, pottebakkery, loodglaswerk en nog meer. In 2017 het sy skilderklas by die bekende Norbert Schling in Cullinan begin loop en die res is geskiedenis. Hier het sy haar liefde vir realistiese uitbeelding van kuns ontdek.
Die hele proses vandat sy aan die Sol-Tech skildery begin verf het, het ongeveer drie maande geneem, waar sy selfs by tye 12 ure aaneen gewerk het. Sy skilder met die drie primêre kleure – rooi, blou, geel en wit, en ‘n mengsel van dié kleure gee die verskillende skakerings wat sy gebruik het.
Mens kan sien dat dit uit en uit ‘n hartswerk was en dat sy dit reggekry het om hierdie hoop van ambagslui vas te vang. ‘n Prentjie, of in die geval ‘n skildery, kan soms ‘n boodskap of emosie weergee wat nie altyd maklik in woorde omgesit kan word nie, dis slegs die oë wat dit verstaan en die hart die boodskap laat hoor.