In Maart vier ons Nasionale Ambagsdag en bedank ons graag elke ambagsman/vrou wat roepingsgetrou hul werk doen en so ‘n verskil maak. Ambagslui het deur die eeue ‘n baie belangrike rol in die ontwikkelingsgeskiedenis van Suid-Afrika gespeel. Hul handewerk vorm oor dekades onlosmaaklik deel van ons alledaagse bestaan.
Die vaardighede en ontwikkeling van ambagslui staan sentraal tot die ontwikkeling van feitlik elke bevolkingsgroep in die wêreld. Suid-Afrika is geen uitsondering nie – ambagte het ‘n spesifieke plek in ons land se mense se vooruitgang gespeel. Daar is ‘n hele paar gebeurtenisse wat te danke is aan vaardige ambagslui, en in ons geskiedenisboeke opgeskryf is as vormend van ons ontwikkeling:
1836: Die Groot Trek
Mens kan jou eintlik nie indink hoe moeilik die Groot Trek sonder ossewaens sou wees nie. Maar, het jy al ooit gedink wie die ossewaens gemaak het? Ambagsmanne, natuurlik! Destydse werktuigkundiges moes self planne optrek vir die meganika van die wa, met passers en draaiers wat die plan omskep het in ‘n fisiese wa wat letterlik die Drakensberge kon aandurf en oor kom.
1860: Die treinspoor
Op 26 Junie 1860 het die eerste stoomtrein in Suid-Afrika 2,6 km in Durban afgelê. In 1862 open die eerste uitgebreide spoor vanaf Kaapstad na Eersterivier. In die bloedige Afrika-son dra ambagsmanne, deur die konstruksie van treinspore, by tot die groei van jong Suid-Afrika.
1882: Die straatlig
Die eerste straatlig in die Suidelike Halfrond en in Afrika is op 2 September 1882 in Kimberley aangeskakel. In 1891 volg die eerste sentrale kragstasie – alles baanbrekerswerk deur elektrisiëns van daardie tyd.
1886: Die goudmyn
Die uitbreiding van die mynindustrie het gelei tot verskeie tegnologiese prestasies wat gespesialiseerde vakmanskap vereis. Gedurende die eerste helfte van die twintigste eeu dien die goudmynindustrie as inspirasie vir die vinnig groeiende ontwikkelingstempo van nuwe goudmyngebiede in etlike dele van Suid-Afrika.
1902: Tweede Vryheidsoorlog
Gedurende dié oorlog moes Boere dikwels hul ambagsvaardighede inspan om hul eie wapens en ammunisie te vervaardig. Marthinus Ras, ‘n ystersmid van Rustenburg, word tot vandag toe onthou as ‘n man wat ‘n verskil tydens die oorlog gemaak het. Hy het self drie kanonne vervaardig om in die behoefte aan wapens in sy omgewing te voorsien. Hy het van materiale soos bv. ysterspoele, wat vrylik in die omgewing beskikbaar was, gebruik gemaak om die waens se wiele te maak. Ambagsmanne speel ‘n wesenlike rol tydens die oorlog.
1923: Stigting van Eskom
Die Elektrisiteitsvoorsieningskommissie is in 1923 gestig met een doelwit voor oë: om in Suid-Afrikaners se elektrisiteitbehoeftes te voorsien. Daarin was hulle destyds suksesvol. Menigte Eskom-vakmanne het deur die dekades heen gehelp om die pad van sukses ook vir hulle opvolgers te verlig, en om met die regte metodes in Suid-Afrikaners se behoeftes na elektrisiteit te voorsien.
1928: Stigting van Yskor
Met die aanvaarding van die Yster- en Staalnywerheidswet (Wet nr. 11 van 1928) het die Nasionale Regering statutêr die weg gebaan vir die totstandkoming van die Suid-Afrikaanse Yster- en Staalindustriële Korporasie Beperk (Yskor). Die doel was om yster- en staalprodukte uit inheemse grondstowwe te produseer en Suid-Afrika selfstandiger te help maak. Hoewel die staalindustrie tans in ‘n oorlewingstryd gewikkel is, neem dit nie weg wat vermag was toe Yskor in die lewe geroep is nie.
1938: Voortrekkermonument
In 1938 begin die konstruksie van die indrukwekkende Voortrekkermonument en is dit in 1949 voltooi. Gerard Moerdijk was die argitek met Kerneels Pretorius as die hoofbouer van die monument. Tot vandag toe beïndruk die presiesheid van die gebou besoekers.
1950: Stigting van Sasol
Sasol se oorsprong dateer terug na ‘n 1947-wetsontwerp wat vir die stigting van Sasol, as ‘n staatsbeheerde maatskappy, in 1950 voorsiening gemaak het. Die eerste aanleg is wel deur ambagslui wat van Europa afkomstig was gebou, maar hoewel hulle die konstruksie van die aanleg behartig het, het hulle in die proses ook Suid-Afrikaanse ambagslui opgelei. Sasol is die enigste kommersiële instelling in die wêreld wat steenkool in vloeistof omskakel.
1966: Die Gariepdam
Verskeie ambagte het bygedra tot die suksesvolle konstruksie van die Gariepdam. Bouers, messelaars, sweisers, elektrisiëns (wat steeds by die kragstasie bedrywig was), meulmakers en passers-en-draaiers was by die bou van die dam betrokke. Tussen 1966 en 1972 het byna elke ambag ‘n belangrike deel in die projek gehad – en op so ‘n wyse die krane vir groot gedeeltes in Suid-Afrika oopgedraai.
1968: Stigting van Krygkor
Krygkor is in 1968 gestig en vervaardig alles van swaar krygsbenodighede tot gepantserde voertuie en stelsels. Ná verskeie eksperimente het ambagsmanne by Krygkor die G6-kanonloop, solied met hoëkoolstofstaal gegiet – een van die eerste prosesse ter wêreld waar ‘n loop solied uit hoëkoolstofstaal gegiet is. Krygkor (vandag as Denel bekend) en sy filiale is opgebou deur meulmakers, passers-en-draaiers – wat die komponente gemaak het -, wêreldklassweisers en metaalgieters.
1975: Die Taalmonument
Jan van Wijk het die Taalmonument ontwerp om erkenning aan die diverse herkoms van Afrikaans te gee. In 1972 begin die bouwerk, met die voltooiing van die monument wat in 1975 afgehandel is. Die 57 m hoë monument sou nie moontlik gewees het sonder die beduidende bydrae wat deur die beeldhouers, bouers en talle ander messelaars gelewer is nie.
2021: Sol-Tech kampus open in Monumentpark
In 2021 open Sol-Tech sy nuwe kampus se deure in Monumentpark. Dié kampus word ‘n monument van hoop vir duisende jongmense wat hiér ‘n toekoms wil kom slyp. Sol-Tech het die afgelope 15 jaar hoëgehalte-ambagsmanne en -vroue opgelewer en met sukses ‘n klomp mylpale behaal, wat alles tot die volgende baie belangrike sleuteldatum in ons geskiedenis van ambagslui oploop: Die bou van Sol-Tech se eie volledige kampus waarvan die eerste sooi op 13 September 2019 gespit is. Met sy nuwe kampus neem Sol-Tech die volgende groot stap in die opleiding van Suid-Afrika se topgehalte-ambagslui. Uit vergelykings, met van die beste tegniese kolleges in die wêreld, is dit duidelik dat die nuwe kampus Sol-Tech onder die voorstes in die wêreld plaas.
Ons hoop is dat ambagslui elke dag sal voortgaan om baanbrekerswerk te doen. In die groot én klein take. Om op te bou waar hulle gaan en so die Skeppingsopdrag van bewoon en bewerk getrou na te kom! Soos deur die geskiedenis bewys, kan ons nie sonder julle nie, ambagte loop deur ons are.