Internasionale Moedertaaldag 2025

Dis Afrikaans by Sol-Tech

Op 21 Februarie 2025 word Internasionale Moedertaaldag wêreldwyd gevier. Ook by Sol-Tech is hierdie dag belangrik: Die Sol-Tech-plaas is immers al vir 18 jaar trots Afrikaans, in elke aspek van die woord.

Die belangrikheid van moedertaalonderrig is oor dekades heen deur verskeie navorsingstudies bewys. Leerders wat in hulle eie taal leer, vaar deur die bank beter tydens hul akademiese ontwikkeling. Hierdie beginsel is veral van toepassing binne die Suid-Afrikaanse konteks, met sy breë spektrum in terme van taal, kultuur, sosio- en politiese omstandighede.

Maar, wat presies behels dit om by Sol-Tech moedertaalonderrig te ontvang? Is dit die Afrikaanse naambordjies teen die geboue, vellies en kortbroeke op kampus, die Afrikaanse leermateriaal of die studente wat Afrikaans by hul werkgewer praat?  Kom stap saam op die spoor van Afrikaans by Sol-Tech.

As jy by die Sol-Tech-hek inry klink die Afrikaanse klanke duidelik hoorbaar en sigbaar op. Dis die getjierie-tjierie van die windpomp en die klokhelder gebeier van die eeue-oue klok op kampus ter viering wanneer ‘n student klaar geFISA het. Dit is te sien in die eg Afrikaanse boustyl van die geboue en die gepaste name soos die Werf, Windpomp, die Kraal, die Plaashuis (koshuis) en die Drukgang (eksamenlokaal), asook die oulike Hoenderoorgange (vir die werfhoenders Sol en Tech) en Mielies (die kampushond) se Mielieland (sy groot hok). Dit voel werklik soos ‘n tuiskoms na ‘n lang dag in die landerye, met die Klein Karoo-son wat jou hart warm maak.

Volgens Donovan Vermeulen (SR Voorsitter 2025) is die moedertaalonderrig hier by Sol-Tech meer as net die Afrikaans in die studiegidse, en is dit nou verweef met die unieke tradisies en kultuur op die kampus. Die studente en personeel se gedeelde Afrikaanse erfenis vorm die hoeksteen van wátter studente-aktiwiteite en hóé dit aangepak word. “Dit is die eerstejaarskamp, valentynssokkie, ambagdag, vasvra-aande, Vonkfees en net lekker saamkuier. Dit is in die Kraal sit tussen klasse terwyl jy smul aan ‘n biefstuk met pampoenkoekies. Dis tafeltennis, braaivleis en kuier by die Plaashuis.”

Moedertaalonderrig is om te leer in jou eie taal. Dit is woorde soos data-en-wolk, oorleikabels (jumper cables), poloniesaag en klasdraf. Volgens Vanessa Archer-Delport (Hoof van Onderrig en Opleiding by Sol-Tech) speel die gebruik van ‘n individu se moedertaal in onderrig en opleiding ‘n deurslaggewende rol in die verbetering van begrip en bereiking van leeruitkomste.

 “By Sol-Tech sien ons dat dit studente in staat stel om konsepte makliker te begryp, wat beter betrokkenheid en deelname in die klaskamer bevorder. Daarbenewens help die gebruik van ‘n student se moedertaal om kulturele identiteit te bewaar en kognitiewe vaardighede te versterk deur ‘n stewige grondslag te bied vir die aanleer van nuwe konsepte en idees.”

Die uiters bekwame lektore maak seker dat die studente die korrekte Afrikaans, asook die algemene terme wat in die praktyk gebruik word, onder die knie kry. “Hierdie benadering bevorder inklusiwiteit en verseker dat studente werklik effektief by die leerproses inskakel, wat lei tot verbeterde akademiese sukses, asook inskakeling by ‘n gesonde, kultuurryke studentelewe!”

Euvian Fourie was in 2020 ‘n meulmaker-student by Sol-Tech, waarna hy sy indiensopleiding by Vrystaat Olie in Villiers gedoen het en daarna internasionale blootstelling by ‘n groot firma ontvang het. “Ek is dankbaar vir die gehalte opleiding wat ek in my moedertaal by Sol-Tech ontvang het. Dit het verskeie deure vir my oopgemaak.”

Nog ‘n oudstudent, Francois van der Merwe, is ook van mening dat die feit dat hy nie in Engels of enige ander taal onderrig ontvang het nie, hom glad nie in die werkplek benadeel het nie. Inteendeel, dit het hom eerder bevoordeel. Die onderrig wat hy ontvang het, het die liefde wat hy vir Afrikaans het net soveel meer versterk en hom dit met selfvertroue in die werkplek laat praat.

Maar, moenie net ons woord daarvoor vat nie, kyk net na die statistiek! Sol-Tech se studente vaar uiters goed in die bedryf, met 94,7% van die studente wat werk kry nadat hulle hul kwalifikasie voltooi het en 21% wat hul eie ondernemings begin.

Dis innamedag, teorie in die klaskamers, prakties in die werkwinkels, promoveer en indiensopleiding by die werkgewer. Of jy inskryf vir vroeëkinderjare-ontwikkeling, een van die agt ambagte, haarkappery of IT, wees verseker dat dit in Afrikaans aangebied word.

Dis bid en Bybel lees in Afrikaans, dis inhaak en die Roepstem op Maandae-oggende na opening sing. Dis saam lag, verheug wees en ook saam huil wanneer ons studente ons vooruitgaan.

Sol-Tech plaas al vir 19 jaar ‘n uitroepteken agter moedertaalonderrig, en kan volmondig sê dat hy met uitnemendheid, so sal voortgaan!

Nog nuus