Inligtingstegnologie is orals. Kyk jy rondom jou kan jy amper nie die wêreld van werk (en jou persoonlike lewe) daarsonder indink nie.
Tegnologie vorm ‘n integrale deel van wat ons kan én nie kan doen nie en is ‘n baie dinamiese en vinnig ontwikkelende speelveld. Sommige sal selfs reken dat tegnologie die wêreld verander en ‘n legio van toekomsmoontlikhede, wat in die vorige eras nie moontlik was nie, vir die mensdom ontsluit.
Met inligtingstegnologie wat die ruggraat van elke besigheid in onder andere die besigheids-, finansiële-, mediese-, verkope-, sport- en bemarkingssektor vorm, is die werksgeleenthede wat hierbinne ontsluit word net so groot. Die Future of Jobs verslag sê dat tegnologie teen 2025, 85 miljoen werke gaan ontwrig maar aan die ander kant 97 miljoen nuwe werke gaan skep.
Op eie bodem meen die IT Skills Shortage Survey dat daar tans in Suid-Afrika 10 000 “moeilik om te vul” poste oop is. WITS se Centre for Software Engineering / Institute of Information Professionals South Africa (IITPSA) beaam dat die aanvraag na IT- en netwerkondersteuning met 99% gestyg het. Hierdie tendens is nie beperk tot ons Suid-Afrikaanse bodem nie, maar word wêreldwyd gesien.
Dit is dus veilig om te sê dat daar vir seker werk vir jongmense in ‘n IT-rigting is en dat ‘n IT-kwalifikasie opwindende geleenthede nou én in die nabye toekoms moontlik kan maak. Binne die digitale era word daar voortdurend na nuwe oplossings vir die stoor van data, kubersekuriteit, netwerkondersteuning, wolk, grootdata ensomeer gesoek.
Nie net is daar ‘n groot aanvraag vir goed gekwalifiseerde IT-persone nie, maar hulle het ook die luuksheid om in enige industrie werksaam te kan wees. Dit maak dit vir IT-spesialiste moontlik om in verskillende sektore en belangstellingsvelde werksaam te wees en daar na kreatiewe oplossings te soek. Verkope, finansies, vervaardiging, onderwys en opleiding, noem maar op.
Instansies soos Sol-Tech (‘n private beroepsopleidingkollege) het juis besluit om “stackable certifications” wat saamgevoeg gemiddeld 136 dae opleiding behels (365 dae maksimum tyd vir suksesvolle voltooiing) aan te bied om te verseker dat jongmense hulself voortdurend verder kan bekwaam en in ‘n relatiewe kort tydperk ‘n merkbare verskil in ‘n besigheid kan maak. Hier word IT- ondersteuning- en -netwerkspesialiste, kubersekuriteitspesialiste en data- en wolkspesialiste prakties opgelei deur die internasionaal erkende CompTIA-sertifiserings as basis te gebruik. Sol-Tech bied ook die sertifiserings individueel aan en bied ook eksamenkoepons.
Vir meer inligting oor Sol-Tech se IT-kwalifikasies, klik gerus HIER