sol-tech aansoek

Keuringstoets 101: Alles waaroor jy wonder

Sol-Tech stel 4 maal per maand die keuringstoetsstelsel oop vir jou om, op enige gegewe Dinsdagdatum van jou keuse, die toets te kan aflê. Dié toets is verpligtend vir elke student wat wil kwalifiseer vir moontlike toelating tot ‘n ambaggerigte beroepskwalifikasie by Sol-Tech.

Aansoeke vir die keuringstoetse sluit om 12:00 op die voorafgaande Maandag, waarna ‘n e-pos en ‘n sms met verdere inligting, onder andere die nodige skakels (links), aan jou gestuur sal word.

Wanneer jy vir ‘n toets geregistreer en die skakels ontvang het, kan jy dan enige tyd tussen 09:00 en 15:30 op die betrokke toetsdag op die stelsel aanteken en dit aflê. Jy benodig 85 minute om ‘n toets te kan voltooi.

Die keuringstoets is ‘n elektroniese, meerkeusige antwoordvraestel en het ses afdelings naamlik wiskunde, wetenskap, IGO, Afrikaans, Engels en kleurblindheid, en elke afdeling is aan ‘n maksimum tyd gekoppel. Die toets word onvoorbereid afgelê.

Nou vra jy seker:

1) hoekom jy ‘n keuringstoets moet skryf en of dit

2) ‘n aanlegtoets is om te bepaal waarvoor jy aangelê is en

3) waarom jy vir kleurblindheid getoets word?

Die antwoorde is eenvoudig:

1) Die keuringstoets evalueer jou basiese vaardighede in wiskunde en wetenskap, ruimtelike oriëntasie asook eerste en tweede taalbegrip om seker te maak dat die student aan die vereistes en gestelde standaarde van die beroepskwalifikasieleerprogramme sal voldoen.

2) ‘n Keuringstoets se doel is alleenlik om die student se algemene kennis te toets en toelating tot Sol-Tech te bepaal.

3) Kleuronderskeiding is van kardinale belang in sekere ambagte en ’n voorkomende veiligheidsmaatreël waaraan Sol-Tech geweldig baie aandag skenk, daarom word dit as deel van die keuringstoets getoets.

Keuringstoetsuitslae is geldig vir 24 maande (indien dit geslaag word). Sou ‘n student die keuringstoets druip, mag hy/sy op die volgende beskikbare datum die toets weer aflê.

Indien die student ‘n 2de keer druip, moet een kalender jaar verloop alvorens die voornemende student weer die keuringstoets mag skryf. Studente wat ‘n derde keer druip, sal nie toegelaat word om weer te skryf nie.

Die wêreld van ambagsopleiding stel hoë eise en studente wat die keuringstoets nie slaag nie, word aangeraai om eerder ander nie-tegniese beroepe te oorweeg.

Oorbruggingstudente lê die keuringstoets na voltooiing en slaag van die oorbruggingsprogram en met voltooiing van ‘n aansoek vir beroepskwalifikasie af.

Besoek die volgende blad om aansoek vir die keuringstoets te doen: klik hier 

Vir meer navrae rakende die keuringstoets rig ‘n e-pos aan [email protected]

Ons help graag!

Nog nuus